Die wetsontwerp is só swak geskryf dat daar vrae is oor die staat se vermoë om hoegenaamd sy beleid prakties in wette uit te druk.
Sommige regskenners het op die Mynbou-indaba wat die afgelope week in Kaapstad gehou is, gekla oor die “sosialistiese” beleidsrigting, terwyl ander dit breedweg steun. Die grootste kopseer is egter dat niemand werklik weet wat die sleutelbepalings beteken nie.
Belanghebbendes moes teen Vrydag kommentaar gelewer het en die skrywers van tientalle sulke kommentaarstukke het aan Sake24 gesê die vreemde taalgebruik dui op probleme in die Staatsregsadviseur, die agentskap wat vir staatsdepartemente wetgewing nagaan.
Selfs al het iemand met net ’n bietjie regsagtergrond by die departement van minerale bronne die wetsontwerp geskryf, sal dit nie die dikwels skouspelagtige foute verklaar nie, sê Otsile Matlou, hoof van mynbou van die regsfirma Edward Nathan Sonnenbergs (ENS).
Susan Shabangu, minister van minerale bronne, het in haar hoofrede op die indaba die voorgestelde wysigings voorgehou as “sakevriendelike” verbeteringe in dienslewering, spesifiek ten opsigte van die uitreiking van mynregte.
Talle bekende skuiwergate en grys gebiede in die bestaande mynwetgewing kry wel aandag, maar daar is soveel vaaghede en eenvoudig sinnelose bepalings dat die pad vorentoe onseker is.
Intussen is daar ’n mate van dringendheid om aan die ANC se Mangaung-resolusies, spesifiek die veredeling-strategie, gestalte te gee.
Shabangu het later op ’n mediakonferensie gesê kwellinge oor die vae bepalings is voortydig. Dit sal geskaaf word deur die parlementêre komitee waarheen die wetswysigings nou gaan.
“Die wetsontwerp moet terug na die skrywers,” meen Manus Booysen, die regsfirma Webber Wentzel se hoof vir mynbou, energie en natuurlike hulpbronne.
Dit is eintlik ’n katastrofe, het hy aan Sake24 gesê. Benewens die ingrypende wysigings wat voorgestel word, is dit op plekke só swak geskryf dat dit fundamentele probleme skep wat die parlementêre portefeuljekomitee eenvoudig nie sal kan oplos nie. Die komitee is veronderstel om hoëvlak-beginsels te bekyk, nie die bewoording nie.
“Ons was stomgeslaan,” sê Chris Stevens, hoof van die regsfirma Werksmans se mynbou-afdeling.
Volgens hom doen gerugte die ronde dat die departement in Desember geskarrel het om ’n wetskrywer te vind. “Die regering het hom nou in ’n hoek geverf. Dit sou vernederend wees om die wetsontwerp terug te trek,” sê Stevens.
Matlou meen die wetsontwerp sal nie die normale pad stap nie, maar deur die een of ander bilaterale forum uitgestryk moet word.
“Ek is nie ’n beleidmaker nie en ek gaan nie sê wat die beleid moet wees nie, maar myns insiens help dit niks om beleid te hê wat niemand begryp nie,” sê hy.
Dit hoef regtig nie so moeilik te wees om jou beleid in regsterme uit te druk nie, meen hy.
Stevens het in 2002 parlementêre voorleggings gedoen toe die oorspronklike wetgewing oorweeg is. “My ervaring is dat dié voorleggings op dowe ore val.”
Peter Leon, ook ’n vennoot by Webber Wentzel, het in ’n paneelgesprek gesê sy ervaring is dat die portefeuljekomitee neig om die departement se leiding te volg.
Paul Miller, tot onlangs hoofbestuurder van die steenkoolgroep Keaton Energy en nou ’n beleggingsbankier by Nedbank Capital, wou weet of die wet nie dalk net ’n “onderhandelingsposisie” is nie.
Die aanvanklike, uitgelekte weergawe van die Mynbouhandves in 2002 se bepaling van 51% swart besit was moontlik só ’n taktiek om kleiner toegewings uit die bedryf te kry, sê Leon.
Hy is egter bekommerd omdat die nuwe wetsontwerp reeds deur die kabinet goedgekeur is. “Dit gee dit ’n sekere status, wat die handves nie gehad het nie.”