Johannesburg. – Kumba kan in minder as twee jaar die R8,5 miljard terugkry wat bestee is om sy nuwe Kolomela-myn te bou omdat die myn soveel vroeër begin produseer het as wat beplan is.
Kolomela is naby Prieska sowat 70 km suid van Sishen en sou volgens die beleggingsvoorstel eers in April vanjaar met produksie begin.
Die vinnige deurvoer van dié enorme bouprojek, wat vier jaar gelede begin het, het meegebring dat Kolomela reeds in November verlede jaar sy eerste ystererts verskeep het.
“Ons sou waarskynlik vanjaar rondom 3 miljoen ton geproduseer het, maar omdat ons dit reggekry het om vroeër met produksie te begin, het ons kans gesien om vanjaar meer te lewer – só tussen 4 miljoen en 5 miljoen ton,” het Chris Griffiths, uitvoerende hoof van Kumba, Vrydag in ’n onderhoud met Sake24 gesê.
Op die oomblik vorder die opbou van produksie by Kolomela só goed dat Griffith egter Vrydag tydens ’n voorlegging oor Kumba se tussentydse resultate die versekering kon gee dat Kolomela vanjaar “minstens” 6 miljoen ton gaan produseer.
Op die mynterrein praat die personeel van 7 miljoen in 2012.
“Die personeel dink ek is ’n bietjie mallerig, want ek het aan hulle gesê my ouma kan tussen 3 miljoen en 4 miljoen ton uit dié myn kry.
Hulle het egter baie goed daarop gereageer,” sê Griffith, wat einde Augustus uitvoerende hoof van Anglo American word.
Kolomela sal aanstaande jaar sy ontwerp-produksiekoers van 9 miljoen ton per jaar bereik.
“Dit beteken dat ons die R8,5 miljard wat ons van die mark gevra het om Kolomela te bou, binne agttien maande tot twee jaar gaan terugbetaal,” sê Griffith.
Dis goeie nuus, maar die vroeër wins is baie nodig om te vergoed vir laer ertsgraad en produksie uit Sishen.
Sishen het in Griffiths se termyn, ondanks die ineenstorting van hulpbronmarkte in Augustus 2008, die land se rykste myn geword en Kumba een van die toppresteerders op die JSE gemaak.
Sishen se enorme ertsliggaam sak dieper weg en groot hoeveelhede bogrond-afval moet deesdae weggemyn word om die dieper ertsliggaam bloot te lê.
Kumba se bestuur het sedert 2009 voorspel dat dit gaan gebeur. Sedertdien is elke jaar rondom 20 miljoen ton afval by Sishen gemyn, maar dié hoër mynkoste het in die tweede helfte van verlede jaar begin byt.
In die jongste halfjaar tot einde Junie het die stroopkoers – die verhouding tussen afval wat weggewerk moet word tot ertsproduksie – gestyg van die gewone 2,1 ’n jaar gelede tot 3,4 teen einde Junie.
Dit lyk asof Sishen vanjaar ’n bykomende 30?miljoen ton afval sal moet wegwerk, wat mynkoste taamlik skerp gaan laat styg.
Dis egter ’n goeie ding, want hoe vinniger die afval weggewerk word, hoe beter, sê Griffiths.