Rustenburg. – Lonmin, die land se derde grootste platinumprodusent, het ook met ’n hersiening van sy bedrywighede begin wat waarskynlik op ’n terugsny van produksie en werkverliese gaan uitloop.
Die lae pryse van platinumgroep-metale gaan Lonmin moontlik dwing om die ontwikkeling van sy Savvy-skag stadiger te doen om sy kontantposisie te beskerm.
Ander moontlikhede is om sy oopgroefmyn, wat taamlik naby aan die einde van lewensverwagting is, te sluit.
“Op die oomblik is nie een van ons bedryfseenhede winsgewend tot op die vlak van kapitaalbesteding nie,” het Mark Munroe, die groep se visepresident belas met mynbou, gister by die Saffy-skag gesê.
Dié skag, wat werk aan 3 500 mense verskaf, is in ’n deurslaggewende fase van omskakeling van gemeganiseerde mynbou tot konvensionele arbeidsintensiewe mynbou.
“Ons het in Mei met ’n hersiening begin en sal binnekort aankondigings daaroor doen,” het Munro gister op ’n mediabesoek aan die groep se bedrywighede in Noordwes gesê.
Die groep verskaf werk aan 35 000 mense in dié provinsie.
Tanya Sikanza, Lonmin se bestuurder: beleggersbetrekkinge, het gesê die fokus in die hersiening val daarop om plooibaarheid te behou wanneer die wêreld-platinummark herstel.
Lonmin het uiteindelik ook die jare lange probleme met sy smelteraanleg uitgestryk – ’n probleem wat die groep lank verhinder het om 1 miljoen onse platinum per jaar te produseer.
Die groep het in die huidige boekjaar ’n produksieteiken van 950 000 onse gestel, maar sal dit waarskynlik weer nie bereik nie weens die terugsny van produksie.
Die kans word verder versterk dat hy dit nou weer nie gaan bereik nie weens die lae platinumprys en ’n surplus in die wêreldmark.