Johannesburg. – Wanneer die stelsel vir die goedkeuring van mynregte uiteindelik met ander owerhede se goedkeurings geïntegreer word, sal dit net ’n jaar duur om álle goedkeurings vir ’n mynprojek te kry, het Susan Shabangu, minister van minerale bronne, gister belowe.
Die integrasie van parallelle goedkeurings deur die departemente van minerale bronne, omgewingsake en waterwese lei dikwels daartoe dat groepe selfs mét mynregte jare lank nie wettig kan begin myn nie, hoewel hulle dikwels tegnies onwettig begin.
“Die gefragmenteerde reguleringstelsel is een van die kernstruikelblokke vir beleggings en mededingendheid in die sektor,” het Shabangu gesê by die amptelike opening van Sasol se nuwe Thubelisha-skag by Secunda.
Tans kan ’n myngroep jare wag op ’n mynreg en daarna nog drie jaar op sy watergebruikslisensie. Die hele proses moet na regte net ’n jaar duur, het sy gesê.
’n Stelsel waarvolgens aansoeke by haar en die ander departemente gelyktydig verwerk word, word glo vervat in die nuwe Wysigingswet op die Ontwikkeling van Minerale en Petroleumhulpbronne wat volgende maand onthul word.
Shabangu het gister ook gesinspeel dat die Raad op Geo-wetenskappe binnekort die land se geskatte steenkoolreserwes heelwat gaan verhoog. Die raad is gelas om die land se reserwes te peil weens kommer oor die volhoubaarheid van die land se steenkoolkragstasies terwyl steenkooluitvoer toeneem.
Shabangu het gister gesê die langverwagte verslag word eersdaags bekend gestel en sal “opwindende gevolge vir die steenkoolbedryf en die uitdaging van voorraadsekuriteit” hê.
Shabangu het egter bygevoeg dat sy nie dié bekendmaking wil vooruitloop nie.
Sasol het gister sy Thubelisha-skag, die begin van ’n R14 miljard-vervanging van die groep se byna uitgemynde Twisdraai-mynkompleks by Secunda, amptelik geopen.
Thubelisha is een van drie skagkomplekse wat teen 2018 geopen sal word.
Dit sal gesamentlik sowat 60% van Sasol se steenkoolproduksie in die streek vervang.
Dit sal die mynkompleks in staat stel om tot 2039 kole te lewer aan sowel die uitvoermark as Sasol se aanleg vir sintetiese olie in Secunda.
Bykans R3,3 miljard is sedert 2009 aan Thubelisha bestee en twee van die uiteindelike 12 mynafdelings is op die been.
Thubelisha sal nagenoeg 10 miljoen ton ongewaste steenkool per jaar, oftewel 2 miljoen ton bruikbare kole, lewer waarvan tot 4 miljoen ton vir die uitvoermark bestem is en ’n verdere 4 miljoen vir Sasol se aanlegte.
Sasol myn in Suid-Afrika altesame sowat 40 miljoen ton steenkool per jaar, waarvan ’n tiende uitgevoer word en die res in olie omgeskep word.
Hermann Wenhold, hoofbestuurder van Sasol Mining, het gister gesê die groep gaan aansoek doen om ’n mynreg in die Waterberg, die land se ontluikende steenkoolstreek.