Johannesburg. – First Uranium het gister waarskynlik sy laaste jaarresultate uitgereik voordat hy einde vandeesmaand al sy bates vir altesame $405 miljoen verkoop.
Die direksie het nog nie ’n besluit geneem oor die likwidasie en ontbinding van die maatskappy nie, het hy in ’n verslag gesê.
Die maatskappy sal nie veel meer oorhê as met sy notering nie omdat hy al die kontant aan skuldeisers en dan aandeelhouers uitkeer.
Hy verkoop sy mynafval-filiaal, Mine Waste Solutions (MWS), vir $335 miljoen aan AngloGold Ashanti en sy Ezulwini-goudmyn vir $70 miljoen aan Gold One.
Dié transaksies sou aanvanklik einde verlede maand afgehandel gewees het, maar die spertyd is verlede week tot einde vandeesmaand uitgestel.
First Uranium-aandeelhouers gaan dus nog ’n rukkie wag om te hoor wat hulle kry uit die ontknoping nadat skuldeisers betaal is.
Gister by die uitreiking van sy resultate het hy weer benadruk dat die vroeëre skatting dat tot $50,2 miljoen vir aandeelhouers sal oorbly, net voorlopig is.
First Uranium het in die jaar tot einde Maart ’n bruto wins van $7,3 miljoen behaal, feitlik alles in die laaste kwartaal van die jaar.
Ná ’n $178 miljoen-afskrywing op Ezulwini, wat einde verlede jaar daadwerklik gerasionaliseer is, was First Uranium se verlies $117 miljoen.
Altesame 1 320 van Ezulwini se 3 300 werknemers het die trekpas gekry. In die laaste kwartaal van die boekjaar het hy net 8 068 fynonse ontgin, ’n afname van 40%.
Die helfte van die myn is prakties gesluit en in Februarie is bedrywighede by Ezulwini se uraanaanleg ook opgeskort.
Dié ingrypings dra net betyds vrugte om Gold One te baat.
Volgens First Uranium het goudproduksie effens herstel en gaan Ezulwini voor einde September begin gelykbreek.
Dié myn gaan egter nog kapitaalbesteding benodig, al het First Uranium sedert 2006 $264 miljoen in die myn geploeg én $139 miljoen van sy verliese gedra.
Sedert sy notering in Desember 2006 het First Uranium altesame $430 miljoen aan MWS bestee.
MWS se bruto wins van $55 miljoen vir die jaar was 38% groter en het vir Ezulwini se $48 miljoen-verlies vergoed.
MWS en Ezulwini dra albei swaar aan verskansingskontrakte wat in 2008 en 2009 onderteken is in ruil vir altesame $175 miljoen kontant by Franco Nevada.
Weens dié kontrakte verkoop MWS 25% van sy goud teen ’n verliesmakende $400 per fynons en Ezulwini 7%.
MWS se produksie was in die jaar onder oorsig 19% groter op 99?003 fynonse wat hom gemiddeld $781 per fynons gekos het om te ontgin.
Ezulwini se produksie van goud was 21% minder op 47?442 fynonse met ’n gemiddelde koste van $2 231 per fynons.