MySake24

Oplossing lê ín die krisis

2012-08-06 20:57
Die probleem van suur mynwater stuur al lank op ’n krisis af, maar die uitgerekte proses om ’n oplossing te vind, steier vanjaar na ’n einde toe.

Die departement van water­wese se uitvoerbaarheidstudie vir sy “langtermynoplossing” sal na verwagting in Februarie volgende jaar voltooi word.

Volgens die departement se planne moet daar teen einde September op die soort tegnologie besluit word wat gebruik gaan word en moet die infrastruktuurplan in November die lig sien. Dan is die vraag net wie vir alles gaan betaal.

Die vermoedelik groot tenders wat uiteindelik hieruit gaan spruit, prikkel reeds heelwat belangstelling hier en elders.

Die Britse regering se UK Trade­ & Investment (UKTI), wat Britse maatskappye in die buiteland bystaan, het verlede maand die waterkrisis ’n “multimiljoen-pond-geleentheid” genoem.

Mynwatersuiwering word voorgehou as ’n geleentheid wat groot waarde inhou.

Net die korttermynbesteding deur myne en die regering sal waarskynlik £500 miljoen beloop, sê UKTI aan potensiële Britse diensverskaffers.

Sake24 het vanjaar gesien hoe Mark Cutifani, uitvoerende hoof van AngloGold Ashanti, by die Mynbou-indaba in Kaapstad in ’n hoek vasgekeer word deur twee Israeliese uitvinders wat hul oplossing vir mynwater­behandeling “eksklusief aan AngloGold” wou bied.

Twee elemente van die uiteindelike plan is van deurslaggewende belang.

Eerstens moet daar nog op die finale tegnologie vir water­behandeling besluit word.

Belanghebbendes het oor die jare heelwat geld in verskillende tegnologie gestort in afwagting van die regering se besluit.

Tweedens moet besluit word hoe, en by wie, die geld gekry gaan word.

Een van die belanghebbendes wat wag op nuus van die regering is Mine Restoration Investments (MRI).

Hy het vanjaar die beheermaatskappy van Western Utilities Corporation (WUC) geword en in Junie op die JSE se AltX-beurs genoteer.

WUC bestaan al jare en is grootliks ’n skepping van die plaaslike goudbedryf.

Hy het ’n omvattende plan vir die bekamping van suur mynwater en stel voor dat die water gesuiwer en verkoop word.

Daar is oënskynlik groot kwellinge oor die private besit van water.

Suur mynwater uit steenkoolmyne word egter reeds op heelwat kleiner skaal in Suid-Afrika aan plaaslike owerhede verkoop.

Só ’n projek in Emalahleni van BHP Billiton en Anglo Coal het trouens in 2007 ’n Nedbank Capital Green Mining Award gewen.

Intussen het die departement van waterwese vanjaar ’n “tydelike oplossing” bewerkstellig wat deur die Trans-Caledon Tunnel Authority (TCTA) aangedryf word.

Richard Holden, ’n ontleder van die TCTA, het vanjaar geskat dat die langtermynoplossing sowat R3,5 miljard gaan kos.

Sy voorstel was dat die mynbousektor dié kapitaal bydra sonder om skuld te beken en hom dus verder aanspreeklik te maak.

Eintlik is R3,5 miljard verstommend min teenoor die koste van die korttermynoplossing, wat beslis ontoereikend is.

Kapitaalbesteding van R1 miljard sal na verwagting nodig wees vir laasgenoemde.

Dit sluit in dat die mynwater met kalk ontsuur word, maar dit word nie ontsout om dit drinkbaar te maak nie.

Daarna sal die projek R385 miljoen per jaar oor vier jaar kos.

Die uiteindelike koste sal dus sowat R2,5 miljard beloop.

Die bedreiging wat suur mynwater inhou, word gewoonlik in verband gebring met waterbesoedeling en die stabiliteit van Gautengse stede.

Daar is egter ook enorme geleentheidskoste daaraan verbonde.

Gauteng stuur op ernstige watertekorte af en, soos in die verlede, is die verkose oplossing dat groot volumes bykomende water uit ’n tweede fase van die Lesotho-Hoogland-projek tot in die provinsie gepomp word.

Suur mynwater sal die vinnigste oplossing wees vir groot volumes bykomende water vir Gauteng.

Dit is die deurslaggewende verskil tussen die huidige tydelike oplossing en die voorgestelde langtermynoplossing, waarvolgens die mynwater gesuiwer en deur Rand Water versprei kan word.
 
«Terug