Johannesburg. – Die ontluikende krisis in die platinumsektor het in April Suid-Afrika se mineraleverkope vir die eerste keer sedert die krisisjaar van 2009 laat daal.
Stagnante platinumpryse en die ineenstorting van platinumproduksie weens grootskaalse arbeidsonrus en die vrywillige sluiting van grensmyne oorskadu die betreklik rooskleurige prentjie in die ander mineralesektore waar Suid-Afrika ’n wesenlike rolspeler is.
Die waarde van mineraleverkope het in April op ’n jaargrondslag met 0,7% geval tot R27,2 miljard, wys Statistieke Suid-Afrika (SSA) se jongste syfers.
Dit was ook die laagste verkope sedert Januarie verlede jaar. As die tendens voortduur, kan dit ernstige gevolge inhou vir die land se stygende handelstekort.
Platinum-groepmetale (PGM’e) is die kern van die land se mynbou, maar die produk se rol het vanjaar geval van die land se waardevolste mynbou- en uitvoer-produk tot slegs die vierde mees waardevolle mineraleproduk, wys die SSA-syfers.
Die verkope van PGM’e het in April op ’n jaargrondslag met 37,3% geval tot slegs R3,6 miljard – minder as die helfte van die waarde van steenkoolverkope in die maand.
Goud- en ystererts-verkope was in die maand ook heelwat meer as dié van PGM’e werd, hoewel al vier die land se grootste mineralesektore op kort termyn laer verkope handhaaf.
Tussen Maart en April vanjaar het alle mineraleverkope met 5,1% geval.
Die mynbousektor se algehele produksiesyfers bly ook swak weens die ineenstorting van PGM-produksie wat grootliks spruit uit die grootskaalse arbeidsonrus by Impala Platinum vroeg vanjaar.
Algehele mineraleproduksie is vanjaar tot einde Mei 7,1% laer as verlede jaar.
Dié syfer gaan ook nie binnekort beter lyk nie nadat die lank-verwagte opskorting van bedrywighede by marginale PGM-myne onlangs begin het met Aquarius Platinum aan die voorpunt.
Dié groep het die meeste van sy plaaslike produksie opgeskort en ’n beroep op ander myngroepe gedoen om ook produksie in te kort.
Die wêreldmark vir platinum ervaar ’n langdurige oorskot wat reeds uitgeloop het op voorstelle vir ’n soort nasionale kartel om die prys te beheer en die aankoop van oorskot-platinum deur die Reserwebank.
Algehele mynbouproduksie was in Mei wel effens hoër as ’n jaar tevore.
Dit was ook die eerste keer sedert Junie verlede jaar dat daar ’n styging in mynbouproduksie op ’n jaargrondslag was.
Dit kom egter van ’n uiters lae grondslag af en weerspieël waarskynlik net die heropening van Impala se Rustenburg-mynkompleks asook die geleidelike hervatting van produksie.