Johannesburg. – Suid-Afrika het oorgenoeg steenkool om in sy eie behoeftes te voorsien, sê Sipho Nkosi, uitvoerende hoof van Exxaro Resources.
As die ANC en die regering se planne vir die mynbedryf deurgevoer word, sal steenkool na alle waarskynlikheid tot ’n strategiese mineraal verklaar word.
Uitbreidingsplanne wat Exxaro gister saam met sy tussentydse resultate bekend gemaak het, dui daarop dat dit ’n bykans belaglike stap sal wees.
Indien steenkool tot strategiese mineraal verklaar word, kan daar onder meer beperkinge op uitvoer geplaas word om te verseker dat daar genoeg is vir Suid-Afrika se eie behoeftes, soos vir die opwekking van elektrisiteit.
Daar is egter nie rede tot kommer nie, sê Nkosi.
Die nuwe Thabametzi-steenkoolmyn wat die groep naby Lephalale in Limpopo beplan, sal uiteindelik ’n produksievermoë van tussen 30 miljoen en 40 miljoen ton steenkool per jaar hê, het Ernst Venter, Exxaro se uitvoerende hoofbestuurder belas met nuwe sake, gister gesê.
Eskom, wat bekommerd is oor die vermoë van die steenkoolbedryf om in die behoeftes van sy kragstasies in Mpumalanga te voorsien, sal tussen 20 miljoen en 30 miljoen ton van die nuwe myn se produksie kan kry.
Minstens nog twee mega-steenkoolmyne – van Resource Generation (Resgen) en Firestone Energy, albei Australiese maatskappye – gaan groot steenkoolbronne ontsluit.
Exxaro en die twee Australiese maatskappye beplan uiteindelik private steenkoolkragstasies wat elk minstens 900 MW sal kan opwek en krag aan die nasionale netwerk sal lewer.
In Exxaro se geval sal steenkool wat Eskom nie koop nie, gebruik kan word om sy eie kragstasie se opwekkingsvermoë te verdubbel.
Die regering se geïntegreerde hulpbronplan (IRP) het aanvanklik nie vir bykomende steenkoolkragstasies voorsiening gemaak voor 2027 en ná die voltooiing van Medupi en Kusile nie, maar dit is gewysig ná vertoë deur voornemende private kragopwekkers.
Die plan vereis nou dat nog 3 700 MW wat deur private steenkoolkragstasies opgewek word, ná 2017 by die nasionale netwerk ingeskakel word.
Nkosi het gister gesê die voorstelle in Sims, die ANC se navorsingsverslag oor staatsbetrokkenheid by die mynbedryf, sal ernstige gevolge vir Exxaro en die steenkoolprodusente inhou as dit toegepas word.
“Die mynbedryf en die ANC het ’n gesamentlike taakspan met vyf verteenwoordigers aan elke kant op die been gebring om die voorstelle te bekyk.
Ek is seker dat standpunte sal verander teen die tyd dat die ANC se Mangaung-konferensie aanbreek,” het Nkosi gesê.
Steenkool het in dié halfjaar net 22% tot die wesensverdienste per aandeel van Exxaro, die land se derde grootste steenkoolprodusent, bygedra.
Die groep se omset en netto wins is kwaai verwring deur eenmalige items, waaronder die verkoop van die Rosh Pinah-myn in Namibië en die verkoop van sy eenheid vir mineraalsand en die gepaardgaande verkryging van aandele in Tronox.
Sy netto bedryfswins uit steenkool het met 14% tot R1,3 miljard gedaal weens laer steenkoolpryse en effens kleiner volumes.
Exxaro het op 3 Julie die eerste steenkool vir Medupi aan Eskom afgelewer en gaan teen einde vanjaar 160 000 ton vir die kragstasie aflewer.
Die steenkoolkontrak vir Medupi word herbeding met die oog op ’n herskedulering van produksie-opbou.
Wim de Klerk, finansiële direkteur, het gesê dié stap gaan geen finansiële uitwerking op Exxaro hê nie.