Johannesburg. – Gold Fields se South Deep-goudmyn dreig om tot 2 384 ondergrondse mynwerkers af te lê nadat die National Union of Mineworkers (NUM) ’n ingrypende nuwe arbeidsbedeling op die myn verwerp het.
Dit is 66% van dié grootliks gemeganiseerde myn se werkmag.
Die myn gebruik groot mynvoertuie en ’n vaardiger werkmag ondergronds as die meeste Suid-Afrikaanse goud- en platinum-myne.
Die NUM het gister die dreigement van aflegging as ’n ondeurdagte onderhandelingstaktiek afgemaak en sy verset teen die voorstelle herhaal.
Gold Fields se voorstelle behels ’n groot afname in die werkdae van individuele werknemers wat volgens die NUM neerkom op ’n afname in lone.
Die goudreus sê weer sy planne behels “aantreklike besoldigings- en byvoordeelpakkette” wat “onmiddellik” 400 poste kan skep.
Volgens die NUM se woordvoerder Lesiba Seshoka beteken die voorstelle ten beste meer poste, maar minder werk.
“Daar is geen waarborg van nuwe poste nie. Dit is bloot propaganda om te praat van al die mense wat gaan werk kry as gevolg van die veranderinge.
“Ons wil ’n beter voorstel hê of geen voorstel nie. As ons moet, sal ons hof toe gaan of staak.”
Gold Fields sê in ’n verklaring hy mik na ’n bykomende 3,5 uur per dag se produksie by die ondergrondse rotswand, maar ’n bykomende 43 dae af per jaar vir werkers.
Die myn wil ook “selektief uitkontrakteer” ter wille van groter aanpasbaarheid.
Daarby wil hy die omstrede produksiebonus-stelsel – wat in die meeste goudmyne geld en waaraan haastige en onveilige gedrag dikwels toegeskryf word – vervang deur ’n nuwe stelsel, wat hy die Total Rewards System noem.
Volgens Seshoka is dit bloot om mynwerkers die bonusse te ontneem waaraan hulle gewoond is.
Gold Fields wil ook veranderinge aanbring aan die graderingstelsel waarvolgens mynwerkers se beroepsvlakke, en dus hul lone, bepaal word.
Seshoka sê dié voorstel behels ook bloot ’n verlaging van lone.
Die goudreus het gister die dramatiese aflegging-dreigement aangekondig ná “talle maande se onderhandelinge” oor die nuwe bedryfsmodel.
Nou sal daar vir nog 60 dae met die NUM onderhandel word ingevolge art. 189 van die Wet op Arbeidsverhoudinge, wat voorsiening maak vir afleggings weens “bedryfsvereistes”.
Volgens Seshoka het die NUM gister nog nie die vereiste 189-kennisgewing ontvang nie.
South Deep het aan die begin van die jaar sowat 3?600 werknemers gehad, ’n klein gedeelte van Gold Fields se plaaslike werkmag van sowat 40 000.
Die lede van die myn se minderheidsvakbond Uasa, sowat 330 individue, het tot die verandering ingestem en word nie deur die moontlike afleggings geraak nie, het Gold Fields gister bekend gemaak.