Johannesburg. – Die volle omvang van die platinumsektor se probleme gaan in die komende maand stuksgewys onthul word namate die land se vernaamste myngroepe hul finansiële state vir die eerste helfte van die jaar uitreik.
Anglo American Platinum het verlede week aandeelhouers gereed gemaak vir die resultate wat môre uitgereik word.
Hy het in ’n handelsverslag gewaarsku dat sy wesensverdienste in die eerste helfte vanjaar met 77% geval het terwyl hy afskrywings van etlike honderdmiljoene rande moes doen weens die benarde stand van die platinummark en koste-inflasie wat ouder gewoonte verwagtinge oortref.
Die volgende dag is die uitvoerende hoof Neville Nicolau se onmiddellike bedanking aangekondig as deel van ’n uiteenlopende herskikking van die Anglo-groep se verskillende Suid-Afrikaanse filiale se topbestuurders.
AngloPlat se myne word vorentoe onder die gewese Kumba-hoof Chris Griffith “hersien” en daar word alom verwag dat hy iewers vet gaan afsny.
Selfs die feit dat Suid-Afrika se platinummyne tot einde Mei vanjaar 25% minder platinum-groepmetale (PGM’e) as in die vorige jare opgelewer het, maak oënskynlik nie die geringste verskil aan die oorskot in die mark nie.
Die grootste deel van die daling in produksie spruit uit die grootskaalse arbeidsonrus by Impala Platinum, wat die reusagtige Rustenburg-mynkompleks vir die grootste deel van twee maande verlam het.
Die land en wêreld se naasgrootste platinumgroep Impala het ook met ingang vandeesmaand ’n nuwe baas, Terrence Goodlace.
Dié groep kondig op 23 Augustus sy resultate vir die jaar tot einde Junie aan – ’n jaar wat hy liefs sou wou vergeet.
Aquarius Platinum, wat reeds die leeueaandeel van sy mynproduksie opgeskort het, doen op 8 Augustus verslag oor sy boekjaar tot einde Junie.
Royal Bafokeng Platinum doen op 20 Augustus verslag oor die halfjaar.
Die platinumprys was in die eerste helfte van verlede jaar gemiddeld $1 788, maar in die eerste helfte van vanjaar $1 556 en dit hou net aan val. Vrydag was die wit metaal net meer as $1 400 per fynons werd.
As die wisselkoers bygereken word, het die gemiddelde platinumprys wat Suid-Afrikaanse myne ontvang met omtrent 16,4% geval tussen die eerste helfte van verlede jaar en van vanjaar.