Johannesburg. - Suid-Afrika bevind hom in ’n onstuimige tyd met die
debat oor nasionalisering, maar die oplossing is om te gaan sit en met mekaar
te praat en oplossings vir die probleem van werkloosheid, armoede en ongelykheid
te vind, sê mnr. Bobby Godsell, voorsitter van Besigheidsleierskap
Suid-Afrika.
BLSA, ’n vereniging van die land se topmaatskappye, het verlede week ná ’n
raadsvergadering verklaar dat hy meer proaktief moes gewees het jeens die eise
om nasionalisering waarop die ANC-jeugliga op sy kongres gefokus het.
“Sake moes egter nie net meer gepraat het – ons
moes meer gedoen het,” sê Godsell.
Die woede en
frustrasie op die jeugliga se kongres wat nou deel
geword het van die openbare debat in die land, behoort nie werklik ’n verrassing
te wees nie.
Die jeugliga het minstens twee voorstelle op die
tafel geplaas wat ernstig opgeneem moet word: die nasionalisering van myne en
ander sektore soos banke, en wysigings aan die Handves van Menseregte wat
onteiening sonder vergoeding moontlik maak.
“Albei daarvan moet ernstig opgeneem word,” sê
Godsell.
“Dit sal net domonnosel Suid-Afrikaners wees wat
dit wil ignoreer. Net baie naïewe Suid-Afrikaners sal verras wees daaroor en dit
sal patetiese Suid-Afrikaners wees wat verlam word daardeur,” het Godsell in ’n
onderhoud met Sake24 gesê.
Daar rus nou ’n verpligting op Suid-Afrikaners om
die kwessies van werkloosheid, armoede en ongelykheid te debatteer en aktief na
oplossings daarvoor te soek.
“Die oplossings is uiteraard in ekonomiese groei,
maar watter soort ekonomiese groei? Dit moet mens-absorberende groei wees, wat
die getal Suid-Afrikaners in die werkplek vergroot.
“Dit moet ook groei wees wat die oorhoofse
produktiwiteit van die land verhoog – met ander woorde elke kapitaaleenheid,
mensehulpbroneenheid, tegnologie-eenheid en energie-eenheid moet hoër vlakke van
welvaartskepping bring,” sê hy.
“Om redes wat ek nie mooi verstaan nie, het
Suid-Afrika in die 1980’s die vakleerlingskapstelsel laat vaar en wegbeweeg van
ambagslui. Let wel, dit het voor die politieke verandering gebeur. Maar die
laaste vyf tot tien jaar, veral die afgelope vyf jaar, het ons die
deurslaggewende belangrikheid van die ambagte herontdek.
“Daarsonder sal ons nooit iets anders wees as ’n
kragtelose dienste-ekonomie nie. As ons enigiets wil maak, enigiets wil regmaak
of enigiets in stand wil hou, het ons ambagslui nodig.
“Ons wil sowat 50 000 jong mense vanjaar in
vakleerlingskappe plaas. Dis omtrent tien keer soveel mense as wat daar op die
jeugliga se kongres was,” sê hy.
“Elke keer dat ’n onderneming indiensneming
verhoog, moet dit gevier word. Die JSE behoort ’n indiensnemingsindeks te hê met
’n lys van maatskappye wat indiensneming die afgelope jaar die meeste laat groei
het.
“Die lys van top-100 maatskappye van die Sunday Times behoort maatstawwe in te sluit wat meet in watter
mate ’n maatskappy daarin geslaag het om volhoubare indiensneming te laat
toeneem in jou onderneming. Dit moet ’n waardekwessie wees,” sê hy.
Maatskappye moet ook loopbaangeleenthede skep.
“?’n Mynwerker van Lesotho kan net in staat gestel
word om sy pad op te werk deur maatskappy-opleiding sodat hy ’n
leerlingamptenaar en uiteindelik ’n mynbestuurder kan word. Wit Suid-Afrikaners
kon dit doen. Baie van vandag se mynbestuurders
het dié pad geloop sonder dat hulle op universiteit was.
“As ons dit regkry, dan verhoog ons maatskaplike
mobiliteit. En maatskaplike mobiliteit is ’n manier om iets aan ongelykheid te
doen. Dit maak van ongelykheid ’n blote versperring sodat dit nie meer ’n ewige
ghetto is waarin mense vasgevang word nie,” sê Godsell.
Sake