MySake24

Tem jeug se woede só

Deur: Jan de Lange 2011-06-26 06:00
Johannesburg. - Suid-Afrika bevind hom in ’n onstuimige tyd met die debat oor na­sionalisering, maar die oplossing is om te gaan sit en met mekaar te praat en oplossings vir die probleem van werkloosheid, armoede en ongelykheid te vind, sê mnr. Bobby Godsell, voorsitter van Besigheidsleierskap Suid-Afrika.

BLSA, ’n vereniging van die land se topmaatskappye, het verlede week ná ’n raadsvergadering verklaar dat hy meer proaktief moes gewees het jeens die eise om nasionalisering waarop die ANC-jeugliga op sy kongres gefokus het.

“Sake moes egter nie net meer gepraat het – ons moes meer gedoen het,” sê Godsell.

Die woede en frustrasie op die jeugliga se kongres wat nou deel geword het van die openbare debat in die land, behoort nie werklik ’n verrassing te wees nie.

Die jeugliga het minstens twee voorstelle op die tafel geplaas wat ernstig opgeneem moet word: die nasionalisering van myne en ander sektore soos banke, en wysigings aan die Handves van Menseregte wat onteiening sonder vergoeding moontlik maak.

“Albei daarvan moet ernstig opgeneem word,” sê Godsell.

“Dit sal net domonnosel Suid-Afrikaners wees wat dit wil ignoreer. Net baie naïewe Suid-Afrikaners sal verras wees daaroor en dit sal patetiese Suid-Afrikaners wees wat verlam word daardeur,” het Godsell in ’n onderhoud met ­Sake24 gesê.

Daar rus nou ’n verpligting op Suid-Afrikaners om die kwessies van werkloosheid, armoede en ongelykheid te debatteer en aktief na oplossings daarvoor te soek.

“Die oplossings is uiteraard in ekonomiese groei, maar watter soort ekonomiese groei? Dit moet mens-absorberende groei wees, wat die getal Suid-Afrikaners in die werkplek vergroot.

“Dit moet ook groei wees wat die oorhoofse produktiwiteit van die land verhoog – met ander woorde elke kapitaaleenheid, mensehulpbroneenheid, tegnologie-eenheid en energie-eenheid moet hoër vlakke van welvaartskepping bring,” sê hy.

“Om redes wat ek nie mooi verstaan nie, het Suid-Afrika in die 1980’s die vakleerlingskapstelsel laat vaar en wegbeweeg van ambagslui. Let wel, dit het voor die politieke verandering gebeur. Maar die laaste vyf tot tien jaar, veral die afgelope vyf jaar, het ons die deurslaggewende belangrikheid van die ambagte herontdek.

“Daarsonder sal ons nooit iets anders wees as ’n kragtelose dienste-ekonomie nie. As ons enigiets wil maak, enigiets wil regmaak of enigiets in stand wil hou, het ons ambagslui nodig.

“Ons wil sowat 50 000 jong mense vanjaar in vakleerlingskappe plaas. Dis omtrent tien keer soveel mense as wat daar op die jeugliga se kongres was,” sê hy.

“Elke keer dat ’n onderneming indiensneming verhoog, moet dit gevier word. Die JSE behoort ’n indiensnemingsindeks te hê met ’n lys van maatskappye wat indiensneming die afgelope jaar die meeste laat groei het.

“Die lys van top-100 maatskappye van die Sunday Times behoort maatstawwe in te sluit wat meet in watter mate ’n maatskappy daarin geslaag het om volhoubare indiensneming te laat toeneem in jou onderneming. Dit moet ’n waardekwessie wees,” sê hy.

Maatskappye moet ook loopbaangeleenthede skep.

“?’n Mynwerker van Lesotho kan net in staat gestel word om sy pad op te werk deur maatskappy-opleiding sodat hy ’n leerlingamptenaar en uiteindelik ’n mynbestuurder kan word. Wit Suid-Afrikaners kon dit doen. Baie van vandag se mynbestuurders het dié pad geloop sonder dat hulle op universiteit was.

“As ons dit regkry, dan verhoog ons maatskaplike mobiliteit. En maatskaplike mobiliteit is ’n manier om iets aan ongelykheid te doen. Dit maak van ongelykheid ’n blote versperring sodat dit nie meer ’n ewige ghetto is waarin mense vasgevang word nie,” sê Godsell.
Sake
Lees meer oor:    werkloosheid  |  armoede  |  ongelykheid  |  bobby godsell
«Terug