Johannesburg. – Adcorp, die grootste arbeidsmakelaar in die land, glo die voorgestelde arbeidswette sal sy wins “minimaal” raak.
Hy bestudeer nietemin steeds die uitwerking van die voorgestelde wysigings aan die Wet op Arbeidsverhoudinge en die Wet op Basiese Diensvoorwaardes, het Adcorp gister by die bekendmaking van sy resultate vir die jaar tot einde Februarie gesê.
Wat betref kontrakwerk is die vernaamste voorstel kragtens die nuwe wet dat kontrakte net ses maande mag duur waarna die werker geregtig word op soortgelyke lone en byvoordele as permanente werkers.
Adcorp, wat duisende blouboordjie-werkers plaas van wie baie vermoedelik volgens so ’n verandering op beter vergoeding geregtig sal word, hou voet by stuk dat dit eerder in sy voordeel as sy nadeel sal wees. Dit is omdat die toenemende kompleksiteit van wettige arbeidsmakelary groter groepe ten koste van klein groepe sal bevoordeel. Met dié argument paai Adcorp en sy eweknieë beleggers al sedert die begin van die
Cosatu-veldtog om arbeidsmakelary te laat verbied.
Adcorp het in die boekjaar sy omset en verdienste verbeter met ’n goeie vertoning van sy kernbedrywigheid, die verskaffing van blouboordjie-kontrakwerkers.
Die groep het egter sy dividend besnoei omdat hy meen “dit is gepas om strategiese geleenthede aan te gryp”. Die volle dividend vir die jaar, met gister se finale dividend ingesluit, was 22% laer as in die vorige jaar op altesame R1,37 per aandeel.
Die R637 miljoen-oorname in Desember van Paracon, ’n IKT-diensteverskaffer wat sedertdien gedenoteer is, het Adcorp se skuldvlakke “wesenlik” verhoog. Adcorp se blouboordjie-afdeling het in die boekjaar goed gevaar met ’n 19%- sprong in omset tot R4,6 miljard en ’n 36%-sprong in bedryfswins tot R193,4 miljoen.
Die witboordjie-afdeling, wat kontrakwerk en werwingsdienste lewer, het in die jaar sy omset met 20,7% verbeter tot R1,6 miljard en sy bedryfswins feitlik verdubbel tot R51,23 miljoen. Dit verberg egter wisselvallige vertonings met kontrakwerk wat volgens Adcorp in der waarheid swakker gevaar het en plasing wat verbeter het.
Adcorp se saamgestelde “nuwegenerasie”-sake, wat uitkontraktering, opleiding en finansiële dienste vir kontrakwerkers insluit, het in die jaar swakker gevaar.
Hoewel dié bedrywighede ’n beskeie bydrae tot die omset lewer, is die winsgrense op dié sake sewe keer dié van Adcorp se arbeidsmakelary.
Die omset in dié afdelings het met 14,8% gestyg tot R193,6 miljoen en die bedryfswins het met sowat 7% gedaal tot R40,8 miljoen.