Sake24 WEBWERWE/DIENSTE >

Brandstofreus hoop op hoër verdienste

Deur: Francois Williams 2012-06-28 23:12
Kaapstad. – Sasol verwag hy sal in die lopende boekjaar stewige bedryfsresultate en meer as die R19,8 miljard se toeskryfbare verdienste van die vorige boekjaar behaal.

Christine Ramon, finansiële hoof, sê in ’n verslag oor die nege maande tot einde Maart Sasol verwag om teen die einde van die volle boekjaar ’n stewiger kontantsaldo as in die vorige jaar te hê ondanks groter kapitaalbesteding van sowat R29 miljard.

Sasol se aandeelprys was gister 2% laer op R339,55.

Die aandeelprys het die afgelope week skerp gedaal van ’n maandhoogtepunt van R379 op 20 Junie. Dit was aan die begin van die jaar nog op sowat R400.

Die groep verwag ’n matige herstel in die internasionale en Suid-Afrikaanse ekonomie, hoewel die Europese skuldkrisis en Amerika se gesukkel met sy begrotingstekort risiko’s inhou.

Sasol Synfuels verwag produksie van sowat 7,1 miljoen ton vir die volle boekjaar.

Die gemiddelde benuttingskoers van die Oryx-gas-tot-brandstofaanleg in Katar vir die volle jaar sal meer as 80% wees.

Sasol verwag oliepryse sal op mediumtermyn wisselvallig bly weens die swakker vraag in Europa en swakker groei in opkomende markte en Amerika, asook sterker as verwagte toenames in olieproduksie.

Ramon sê Sasol onderhandel steeds met moontlike kopers vir sy belang in die Arya Sasol-polimeermaatskappy in Iran.

Sasol het in November verlede jaar gesê hy wil sy belang verkoop.

Die aanleg produseer etileen- en poli-etileenprodukte vir die uitvoermark en die produkte word nie vir die ontwikkeling van olie- of gasbronne of kernkrag in Iran gebruik nie.

’n Verhoor voor die Mededingingstribunaal oor beweerde buitensporige pryse van Sasol Chemical Industries vir propileen en polipropileen van 2004 tot 2007 in die Suid-Afrikaanse mark, is tot Mei volgende jaar uitgestel, het Ramon gesê.

Die verhoor is aanvanklik vir van 16 Julie tot 10 Augustus gereël, maar die Mededingingskommissie het gevra dit moet uitgestel word.

Sasol vorder met die bou van ’n gaskragstasie van 140 MW by Sasolburg teen R1,8 miljard.

Die Finse maatskappy Wartsila sal die aanleg vir drie jaar bedryf en onderhou.

Danksy dié en ander projekte is Sasol op koers om teen volgende jaar 60% van sy eie krag self op te wek.

Die gaskragstasie sal steenkoolkragopwekking vervang en sodoende sy koolsuurgasvrystellings by Sasolburg met 1 miljoen ton per jaar verlaag.

Ramon sê Sasol en sy Kanadese vennoot Talisman ondersoek die uitslag van ’n uitvoerbaarheidstudie vir ’n gas-tot-brandstofaanleg van 48 000 vate per dag in die weste van Kanada.

Sasol sal teen die tweede helfte van die jaar besluit of hy voortgaan met die vroeë ingenieurs- en ontwerpfase van só ’n aanleg.

«Terug