Sake24 WEBWERWE/DIENSTE >

Groei ‘nie volhoubaar’

Deur: Ingé Lamprecht 2012-08-02 22:04
Johannesburg. – Die verkope van nuwe voertuie het verlede maand op ’n jaargrondslag met 18,3% gestyg, maar dié groei skets ’n oordrewe prentjie van wat in die mark aan die gang is.

Rolspelers het gister ietwat verbaas gereageer op die groeisyfers nadat die nasionale vereniging van voertuigvervaardigers (Naamsa) aangekondig het 54 067 nuwe voertuie is in Julie verkoop.

Die styging strook op die oog af nie met verbruikers se skuldvlakke, stygende brandstof-, krag- en kospryse, afwaartse aanpassings aan ekonomiese groei en tanende verbruikersvertroue nie.

Wessel Steffens, hoof van Absa Voertuig- en Handelsbatefinansiering, sê die styging is hoofsaaklik die gevolg van groter aankope deur motorverhuringsgroepe, wat verlede maand 12,3% van voertuie gekoop het vergeleke met 5,9% die vorige maand.

Langdurige verskaffingsprobleme wat veroorsaak is deur die aardbewing en tsoenami in Japan in Maart verlede jaar, het ook ’n laer grondslag vir groei geskep, meen hy.

Dr. Sheshi Kaniki, senior ekonoom van MMI Holdings, meen hoewel verbruikers redelik negatief voel oor die ekonomiese omgewing, is ’n voertuig vir baie Suid-Afrikaners ’n belangrike statussimbool.

Hy meen dié siening skep die moontlikheid dat huishoudings ’n voertuig sal aankoop ten spyte van hul ekonomiese omstandighede.

Sommige mense gebruik moontlik ook alternatiewe bronne van finansiering – soos ongesekureerde lenings – daarvoor.

Te midde van hoë werkloosheid, gedempte loongroei en hoë voertuigpryse lyk dit nie of mense die voertuie met hul eie geld finansier nie, meen hy.

Paul Choma, bemarkings­bestuurder by Ford Credit in Suid-Afrika, sê sowat 25% van hul klante het verlede jaar hul voertuig kontant gekoop. Die persentasie het vanjaar tot 30% gestyg.

Hy meen dit kan wees dat mense dié geld uit hul huislening onttrek of persoonlike lenings as ’n deposito gebruik.

Calvyn Hamman, se­nior visepresident van verkope en bemarking by Toyota Suid-Afrika Motors, meen groei word gedryf deur verbruikers wat hul aankope gedurende die afswaai uitgestel het, verkoopsaansporings wat deur vervaardigers na handelaars en verbruikers deurgegee word, lae rentekoerse, die groeiende neiging dat mense goedkoper voertuie koop en aantreklike finansieringspakkette.

Naamsa verwag dat histories lae rentekoerse, ’n verdere verbetering in voertuigbekostigbaarheid in reële waarde en ’n verbeterde vraag na krediet deur huishoudings en ondernemings die mark sal bly ondersteun.

Die bekendstelling van nuwe modelle kan volgens Naamsa vir ’n verdere inspuiting sorg.

Chris de Kock, hoof van verkope en bemarking by WesBank, verwag egter dat daar uiteindelik ’n verlangsaming in groei sal plaasvind.

“Ons word steeds deur internasionale onsekerheid in die gesig gestaar en dit sal met verloop van tyd ’n impak hê.

“Plaaslik sal ons in die komende maande met ’n ander stel ekonomiese werklikhede te doen hê, insluitende baie laer inkomstegroei en die vooruitsig van hoër werkloosheid omdat maatskappye onder druk is,” sê hy.

Naamsa verwag dat die verkope van nuwe voertuie vanjaar met 10% sal groei. In die jaar tot dusver was die groei 11,6%.


«Terug