Johannesburg. – Eskom se skuld gaan in die volgende vyf jaar van R182 miljard tot R350 miljard groei ten einde sy bouprogram te kan volhou.
Sy kapitaalbesteding – hoofsaaklike bouwerk aan sy twee nuwe steenkoolkragstasies – het in die boekjaar tot einde Maart R58,8 miljard beloop.
Paul O’Flaherty, finansiële direkteur van die elektrisiteitsreus, verwag dat kapitaalbesteding in die volgende vyf jaar sowat R65 miljard per jaar gaan beloop. “Dit gaan ons rentebetalings op sowat R23 miljard per jaar te staan bring,” het O’Flaherty gister gesê.
“Om dit in perspektief te stel: Ons rentebetalings gaan in die volgende vyf jaar sowat R120 miljard beloop. Dis gelyk aan ’n jaar se omset.”
Eskom het R1,8 miljard bestee om van Desember verlede jaar tot einde Mei vanjaar elektrisiteit terug te koop van groot verbruikers soos chroomsmelters.
Hy het elektrisiteitsverbruik in die tyd met 1 000 MW verminder sodat hy sy agterstand met onderhoudswerk kon inhaal ter voorbereiding op die winter.
Eskom se omset het in die jaar tot einde Maart met 25,49% gestyg tot R114,76 miljard, danksy tariefverhogings.
Sy elektrisiteitsverkope het egter met net 0,2% gestyg tot 224 785 GWh – die kleinste styging in elektrisiteitsverbruik sedert die land se kragkrisis in 2008 begin het. (Verbruik het die vorige jaar met 2,7% gestyg en in 2010 met 1,7%).
“Dis ’n duidelike aanduiding van wat in die ekonomie gebeur, maar ook ’n gevolg van ons vraagkant-programme,” sê Brian Dames, uitvoerende hoof.
Eskom gaan in Julie weer by Nersa aansoek doen om tariefverhogings in die volgende drie jaar.
“Dit sal die versoeke van pres. Jacob Zuma in sy staatsrede in ag neem: die toekomstige groei van die ekonomie, die beskerming van armes, maar ook die lewensvatbaarheid van Eskom,” sê Dames.
Sy opwekkingsvermoë het in die afgelope boekjaar met 453 MW gestyg, danksy die heringebruikneming van ou kragstasies.