Sake24

Geskiedkundige loonkompromis misluk

Deur: Dewald van Rensburg 2012-06-15 05:00
Die geskiedkundige loonkompromis wat verlede jaar in die kleresektor bereik is, het misluk, het die klerewerkersvakbond Sact­wu gister bevestig.

Sedert die ooreenkoms het poste in die deel van die kleresektor waarop dit gemik is, met 1% toegeneem pleks van die 3% (1 000 poste) wat die teiken teen Maart was, het ­Sactwu gesê. Die vakbond het met Apparel Manufacturers of South Africa (Amsa), die werkgewerorganisasie in die sektor se bedingingsraad, ooreengekom om ter wille van werkskepping intreevlaklone van 20% tot 30% minder as die minimum toe te laat.

Dit is uit verskeie oorde verwelkom as ’n deurbraak vir die be­leërde sektor en ’n model vir ander bedingingsrade.

Die vakbond het gister in ’n verklaring werkgewers gekap omdat hulle “nie hul deel van die ooreenkoms nakom nie”, naamlik om werkers aan te stel. Die teiken was dat poste binne drie jaar met 15% of altesame 5 400 toeneem.

Johann Baard, Amsa se direkteur, skryf die mislukking daaraan toe dat die nuwelinge ongelukkig is met hul laer besoldiging vir dieselfde werk as wat hul kollegas doen.


 
Lees meer oor:    loonooreenkoms  |  vakbonde  |  kleresektor
«Terug