Die chemikalieëgroep AECI sê in ’n handelsverklaring hy verwag sy wesensverdienste per aandeel vir die ses maande tot einde Junie 2012 gaan tussen 57% en 62% laer wees as in dieselfde tyd verlede jaar.
Hy verwag sy verdienste per aandeel gaan tussen 54% en 59% laer wees as die syfers vir die eerste halfjaar van 2011.
AECI sê die verlaging is weens die koste van sy breë swart ekonomiese bemagtiging (BSEB)-transaksies gedurende sy afgelope halfjaar.
’n Bedrag van R148 miljoen is kragtens internasionale finansiële verslagdoeningstandaarde (IFVS) as aandeelgebaseerde betalingsuitgawes op die inkomstestaat erken.
Sonder die BSEB-transaksies sou AECI se wesensverdienste per aandeel steeds tussen 7% en 12% laer as in die ooreenstemmende tydperk verlede jaar gewees het.
Dít is hoofsaaklik weens wisselvallige mynbou- en vervaardigingsproduksie en sy plofstoffiliaal, AEL Mining Services, wat sy produksieteiken by die groep se Modderfontein-aanleg misgeloop het.
Hy verwag sy bedryfswins vir die afgelope ses maande het met 9% ingekrimp.