Sake24 WEBWERWE/DIENSTE >

Group Five verwag veel laer verdienste

Deur: Sens 2012-07-22 22:19
Die konstruksiegroep Group Five het bekend gemaak dat sy ten volle verwaterde wesensverdienste per aandeel vir die jaar tot einde Junie dalk tussen 60% en 70% laer sal wees as die heruitgereikte syfers van die vorige boekjaar.

Dít beteken die ten volle verwaterde wesensverdienste per aandeel kan tussen 93c en 124c wees, vergeleke met 310c in die vorige boekjaar.

Die wesensverdienste per aandeel sal ook tussen 60% en 70% daal en dus tussen 98c en 131c wees, vergeleke met die heruitgereikte 326c in die vorige boekjaar.

Ten volle verwaterde verdienste per aandeel en verdienste per aandeel sal na verwagting ’n verlies van tussen 270c en 300c wees, vergeleke met ’n heruitgereikte verlies van 227c per aandeel in die vorige boekjaar.

Die swakker wesensverdienste is vroeër toegeskryf aan verliese met die afsluiting van ou kontrakte in die Midde-Ooste en bedryfsverliese in die afdeling vir boumateriaal voor die verkoop van dié ondernemings.

Verdienste is benadeel deur waarde-afskrywings met betrekking tot die boumateriale-afdeling en ’n eis ten opsigte van die Indiese kontrak.

Daar was egter positiewe aanpassings met betrekking tot die pensioenfonds en die afdelings vir eiendomme en konsessies.

Group Five sê die feit dat hy geografies wyer werk en gereelde inkomste het van konsessies, vervaardiging en beleggings, en sy sterk posisie in mynbou en die energiebedryf in Afrika het vergoed vir die flou konstruksie- en ingenieursmark in Suid-Afrika.

Die groep sê die mark het effens herstel in die tweede helfte van die boekjaar ondanks die kansellasie en uitstel van regeringsprojekte, onsekerheid oor toekomstige tolpaaie en vertragings met die program vir hernieubare energie.

Group Five se bestelboek het gevolglik effens herstel in die tweede helfte van die boekjaar en ’n geleidelike verbetering word verwag.


«Terug