Pretoria. – Daar is niks fout met die gehalte van die sement wat in Suid-Afrika te koop is nie, sê die nasionale reguleerder vir verpligte standaarde (NRCS).
Die NRCS het gister voor die Nasionale Persklub sy stilswye verbreek oor herhaalde klagtes dat ingevoerde sement nie aan die standaard voldoen nie.
Thomas Madzivhe, waarnemende uitvoerende hoof, het gesê alle sement wat die afgelope jaar getoets is, het aan die gehaltestandaarde voldoen.
Volgens Madzivhe was die enigste klagtes wat die NRCS daaroor ontvang het, van gevestigde produsente in Suid-Afrika.
Die dryfveer daaragter is moontlik dat invoerders hul produkte goedkoper op die mark plaas en gevestigde produsente markaandeel verloor, het hy gesê.
Die invoer van sement het die afgelope paar jaar dramaties toegeneem en maak tans na raming 5% van die plaaslike mark uit, dus tussen 500 000 ton en 600 000 ton per jaar. Dit is veral in kusstreke ’n faktor.
Plaaslike produsente het voor die Wêreldbeker-sokkertoernooi, toe hulle self nie in die plaaslike vraag kon voorsien nie, van dieselfde produsente se sement ingevoer, maar nou kla hulle oor die gehalte, het hy gesê.
Sake24 het vroeër berig dat NPC-Cimpor die reguleerder hof toe gesleep het met beweringe dat Lucky Cement en Falcon Cement, wat onderskeidelik van Pakistan en Bahrein ingevoer word, nie aan die voorgeskrewe standaard voldoen nie.
NPC-Cimpor het gevra dat die NRCS die standaarde opdwing.
Musa Ndlovu, waarnemende bestuurder vir nie-bederfbare produkte van die NRCS, het gesê die organisasie het dadelik ná die klagtes teen Lucky Cement die verkoop van die produk vir 30 dae stopgesit.
“Die voorsitter van Lucky Cement het hierheen gevlieg en gevra dat die verbod opgehef word,” het hy gesê.
Die reguleerder het egter eers sy toetse voltooi en hom daarvan vergewis dat die sement aan die vereistes voldoen. Falcon Cement het ook die reguleerder se toetse geslaag.
Die instituut vir sement en beton (C&CI) en die sementvervaardiger Lafarge het ook meer onlangs hul kommer uitgespreek oor die gehalte van ingevoerde sement en gevra of die reguleerder daarteen optree.
Volgens Ndlovu het die Suid-Afrikaanse Buro vir Standaarde (SABS) elke vervaardiger wat sement invoer se fabriek besoek om dit goed te keur en herhaal dié inspeksies jaarliks.
Daar is tans 215 magtigingsbriewe vir die vervaardiging, invoer of verspreiding van sement in Suid-Afrika.
Die NRCS is wel bekommerd dat sement sonder dié dokumente of met vervalste weergawes ingevoer word.
Nouer samewerking met die Suid-Afrikaanse Inkomstediens se doeanebeheer is daarop gemik om sulke oortreders vas te vat.
Dié verskerpte optrede word volgende maand van die Durban-hawe na Port Elizabeth en Kaapstad uitgebrei en in Januarie na binnelandse grensposte soos Komati en Beitbrug.
Tot dusver is geen oortreders betrap nie en stories oor sement wat as meel verskeep word, kon nie bevestig word nie.
Die NRCS gaan binne ’n maand die name van almal aan wie magtigingsbriewe uitgereik is, op sy webblad aanbring sodat gebruikers wat twyfel of ’n sekere handelsnaam-sement aan die standaarde voldoen, kan nagaan of dit die NRCS se goedkeuring wegdra.
Bryan Perrie, besturende direkteur van die C&CI, waarvan die vier groot plaaslike sementprodusente lid is, het in reaksie die voorgenome publikasie van instansies aan wie magtigingsbriewe uitgereik is, verwelkom.
Hy sê dit is goed dat die reguleerder deursigtiger word in sy optrede.
“Al wat die bedryf wil hê, is dat dieselfde reëls almal geld en die goeie naam van sement en beton beskerm word.”
Hy is wel skepties omdat die reguleerder nie kon sê hoeveel sement tans ingevoer word nie.
Die selfreguleringstelsels bepaal tans dat invoerders ná elke 500 ton gehaltetoetse moet laat doen en dié resultate moet tydens inspeksies aan die reguleerder beskikbaar gestel word.
“As hulle nie weet hoeveel ingevoer word nie, hoe weet hulle hoeveel inspeksieverslae daar moet wees?” het hy gevra.