Sake24 WEBWERWE/DIENSTE >

Moody's waarsku oor skepe

Deur: Francois Williams 2012-06-01 05:00
Kaapstad. – Te veel skepe vir te min vrag en duur skeepsbrandstof sal vanjaar winsgrense in die meeste skeepsvervoersektore knou, sê Moody’s Investors Ser­vice­ in ’n bedryfsverslag.

Die vooruitsigte vir die bedryf vir die volgende 12 tot 18 maande bly volgens Moody’s negatief. Vir uitvoerders en vragversenders beteken dit straks minder druk op vrag­tariefverhogings.

Marco Vetulli, senior kredietbeampte van Moody’s en skrywer van die verslag, sê hulle verwag die gemiddelde verdienste van die internasionale skeepsbedryf sal vanjaar met tussen 5% en 10% daal. “Onsekerheid oor die omvang en duur van die resessie in die eurogebied en nuwe geopoli­tieke spanning in die Persiese Golf hou verdere risiko’s vir die bedryf in.”

Moody’s sê die grootmaatdroëvrag- en die olietenkskip-segment van die mark sal vanjaar die grootste gaping tussen vraag en aanbod hê, wat dit vir dié sektore moeilik sal maak om hul ver­diens­te te verbeter.

Die vooruitsig vir tenkskepe wat voltooide brandstofprodukte vervoer, is beter omdat die groei in die vraag die aanbod sal oorskry, wat teen die jaareinde tot stygings in vragtariewe sal lei.

Die tariewe vir houervrag het sedert Maart herstel, maar Moody’s verwag nie ’n sterk verbetering vanjaar in die verdienste van dié sektor nie. Dis toe te skryf aan hoë skeepsbrandstofkoste en druk op ­houervragtariewe weens die onlangse toename in die beskikbare aantal houerskepe.

Moody’s sê hy sal dit oorweeg om die vooruitsig in stabiel te verander as daar tekens is dat die aanbod die vraag nie met meer as 2% oorskry nie.

Moody’s se gevolgtrekking word bevestig deur die plaas­like skeepsgroep Grindrod se kommentaar op sy jaarsyfers tot einde Desember, waarin hy sê die trae Amerikaanse ekonomie en Europese skuldprobleme het tot ’n kleiner vraag na olie en ’n ooraanbod van tenkskepe gelei.

’n Bykomende koste wat marges vir Grindrod onder druk geplaas het, is die langer roetes en ekstra koste wat skepe moet aangaan om seerowery aan die kus van Oos-Afrika te vermy.

Lees meer oor:    skepe  |  tenkskepe
«Terug