Sake24 WEBWERWE/DIENSTE >

Regrukstappe looi WG Wearne se omset

Deur: Antoinette Slabbert 2012-06-25 05:00
Pretoria. – Die boumateriaalmaatskappy WG Wearne se omset het in die boekjaar tot einde Februarie met byna 18% ingekrimp.

Die resultate is Vrydag bekend gemaak nadat die JSE gewaarsku het dat Wearne en twee ander maatskappye se notering opgeskort kan word weens die gesloer met die bekendmaking van hul resultate. Die einde van die maand is as spertyd gestel.

WG Wearne skryf die daling in sy omset toe aan die sluiting van onderpresterende bedrywighede in die afdeling vir gemengde beton en die swak vraag in die flou residensiële boumark.

Die omset van die afdeling vir betonprodukte is 20% groter.

Benewens die vier aanlegte vir gemengde beton, het die maatskappy in die oorsigtydperk ook ’n onderpresterende klipbrekery en ’n sandwassery gesluit.

Dié stappe het bygedra tot ’n verhoging in die bruto winsgrens van 20% tot 32%.

Eenmalige uitgawes van R8,4?miljoen het WG Wearne se resultate geknou. Hy het bates wat nie by sy kernbedrywighede inpas nie, verkoop.

’n Deel van die inkomste uit die transaksies is gebruik om korttermynskuld van R30?miljoen af te los.

Die groep het ’n langtermynlening van R43?miljoen van die Nywerheidsontwikkelingskorporasie (NOK) aangegaan. Dit het gehelp om die druk op sy kontantvloei te verlig.

WG Wearne se netto batewaarde per aandeel het weens swak verdienste en die uitreiking van aandele aan die NOK en die Wearne-werkerstrust van 24,91c tot 19,33c gedaal.

Hy sê hy het ontslae geraak van feitlik al sy bedrywighede wat ’n verlies gely het, maar dit word nog nie in die syfers weerspieël nie.

Hy ondersoek die moontlikheid om van sy nie-kernaktiwiteite uit te kontrakteer. Daardeur sal hy sy skuld en bokoste kan verminder en vinniger kan reageer op veranderinge in die markomstandighede.

Die maatskappy wil sy boor-en-skietbedrywighede in die gruisafdeling uitbrei en glo die belegging wat dit verg, sal hom help om die bedrywighede wat die beste presteer, te kan uitbrei.

Die algemene marktoestande het begin verbeter en die maatskappy sal baat vind by ’n opbloei in die sivielekonstruksiebedryf.

Volgens die ouditeurs is daar steeds kommer oor WG Wearne se voortbestaan as lopende onderneming.

Sy bedryfslaste oorskry die bates en hy onderhandel tans oor die verkoop van nog eiendom óf die verlenging van die terugbetalingstermyn van sy oortrokke rekening van R30?miljoen.

Sy krediteure het vroeër ’n skuldmoratorium toegestaan waartydens WG Wearne onder meer net die rente op sy gesekureerde skuld betaal.

Die ooreenkoms verstryk in Januarie aanstaande jaar.

 
Lees meer oor:    wg wearne
«Terug