Sake24 WEBWERWE/DIENSTE >

SA pleit by EU oor Iran-olie

Deur: Jean-Marie de Waal 2012-06-18 05:00
Kaapstad. – Die regering is “versigtig optimisties” dat die Europese Unie (EU) gaan begryp watter nadelige ekonomiese uitwerking die voorgenome sanksies teen Iran op Suid-Afrika en sy buurlande sal hê, volgens Neli­siwe Magubane, direkteur-generaal van energie.

Suid-Afrika het reeds dié pleidooi aan die EU gelewer.

Die vyf permanente lede van die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad en Duitsland vergader vandeesweek met Iran in Moskou, Rusland, oor die dreigende sanksies teen Iran.

Die VSA, Brittanje, Frankryk en Duitsland dring daarop aan dat Iran bewys dat hy nie ’n kernwapenprogram het of ’n voor­neme om een te begin nie.

China, die grootste invoerder van olie uit Iran, en Rusland probeer in dié geskil bemiddel.

Magubane het Vrydag op ’n mediakonferensie ná die kabinet se vergadering Woensdag gesê daar word gehoop ’n deurbraak sal op vandeesweek se vergadering gemaak word.

Suid-Afrika is een van die ­lande waarvoor Amerika ver­lede week uitstel van 180 dae ­vanaf ­1 Julie gegee het om hul ­afhanklikheid van Iranse olie te verminder.

Dit beteken die land is nie onderhewig aan die internasionale finansiële sanksies wat op 1 Julie van krag word nie. Dit is ontwerp om te keer dat betalings vir Iranse olie gedoen kan word.

Die VSA se sanksies teen Iran het betrekking op finansiële instansies wat voortgaan om sake te doen met Iranse finansiële ­instellings. Dié wat voortgaan, loop die risiko dat hulle uit die Amerikaanse finansiële stelsel gesluit sal word.

Terwyl die uitstel van krag is, moet Suid-Afrika sy afhanklikheid van Iranse olie verminder. Die land voer meer as 25% van sy olie uit Iran in. Die EU se sanksies teen Iran behels ’n volle en regstreekse verbod op die invoer van olie- en olieprodukte uit Iran vanaf 1 Julie.

Dié verbod het nie vrywarings soos die Amerikaanse sanksies nie en dus sal die EU oorreed moet word om nie die sanksies in te stel nie, het Magubane gesê.

Intussen het Suid-Afrika reeds die afgelope maande sy olie-invoer uit Iran begin verlaag deur meer ruolie uit Nigerië, Angola en Saoedi-Arabië in te voer.

Party Suid-Afrikaanse raffinaderye is egter ontwerp om net Iranse ruolie te verwerk. Raffinaderye sal dan aanpassings moet maak om ’n ander soort olie te kan hanteer, wat die kostes kan opjaag.

Magubane het gesê geen aansoeke om vergoeding om raffinaderye op te gradeer is al deur die regering ontvang nie.

Saoedi-Arabië se ruolie is van soortgelyke gehalte as die ruolie wat Iran lewer.

Suid-Afrika het in die jaar tot einde Maart sowat 5,5 miljard liter ruolie uit Saoedi-Arabië, sy tweede grootste olievennoot, ingevoer – effens minder as die sowat 5,6 miljard liter uit Iran.

Meer as 4 miljard liter ruolie is uit Nigerië, sy vierde grootste olievennoot, ingevoer.

Altesame is meer as 20 miljard liter ruolie van R105 miljard ingevoer. Volgens die ministerie van energie word naastenby 10 miljoen vate ruolie deur die regering se strategiese voorraadfonds gehou.
 
Lees meer oor:    iran  |  sanksies  |  olie  |  eu
«Terug