Johannesburg. – Eskom se pogings om stygings in kragtariewe te beperk, word in die wiele gery deur probleme om genoeg steenkool van die regte graad teen die regte prys te kry.
Dit kan die regering noop om wetgewing of kwotas in te stel wat die hoeveelheid en gehalte reguleer van die steenkool wat uitgevoer mag word, sê Malusi Gigaba, minister van openbare ondernemings.
Hy het gister met die bekendstelling van Eskom se finansiële en bedryfsresultate vir die boekjaar tot einde Maart gesê as die prys van steenkool aanhou met dubbelsyfers styg, sal krag onbekostigbaar word.
Gigaba sê dit is te vroeg om te sê of Eskom wel sal vra vir ’n prysverhoging. Die kragreus is nog besig met raadpleging en kyk na verskillende modelle.
Steenkool is ’n groot probleem, sê die minister. Eskom moet die regte hoeveelheid kry, maar dit moet ook die regte gehalte wees en teen die regte prys kom. Eskom moet verseker dat hy genoeg steenkool in voorraad het.
Die afgelope twee jaar het steenkoolkoste met 17% per jaar gestyg, terwyl Eskom se tariefaansoek by die nasionale energiereguleerder (Nersa) gegrond is op enkelsyferstygings.
Primêre energiekoste, wat grootliks uit steenkool bestaan, maak 20c uit van die gemiddelde eenheidskoste van 50c waarteen die kragreus elektrisiteit verkoop. Stygings hierin word regstreeks deurgevoer na Eskom se verkoopprys.
Gigaba het verduidelik dat Eskom tans die lewe verleng van sy steenkoolkragstasies om te verseker dat hy in die vraag na elektrisiteit kan voorsien. Die kragstasies werk harder, maar die myne wat hulle bedien, word ouer en kan nie meer die gewenste kwaliteit steenkool lewer nie omdat die beste reserwes uitgeput raak.
Daar is ook arbeidsprobleme en kwessies oor produktiwiteit by van die steenkoolmyne, sê Gigaba.
Om alles te kroon, skep die vraag na steenkool uit China en Indië ’n alternatiewe mark vir steenkoolprodusente teen stewige pryse, wat Eskom se bedingingsmag verminder. Veral Indië ding kwaai mee omdat die land dieselfde gehalte steenkool verlang as wat tradisioneel aan Eskom gelewer is.
Gigaba sê hy is in gesprek met die departement van minerale bronne om steenkool tot strategiese hulpbron te verklaar. Hy sê daar is verskillende modelle waarvolgens dít steenkoolsekerheid aan Eskom kan bied.
Die regering kan uitvoerkwotas instel vir die steenkoolbedryf of wetgewing instel om die hoeveelheid en gehalte van steenkooluitvoer en dít wat vir Eskom beskikbaar moet wees, voor te skryf.
Brian Dames, uitvoerende hoof van Eskom, het vroeër gesê die kragreus sal in Julie sy volgende tariefaansoek by Nersa indien.
Mohamed Adam, hoof van Eskom se regulatoriese en regsafdeling, het gister gesê Eskom sal ’n voorstel indien dat die pryse vir vyf jaar vooruit vasgestel word ten einde voorspelbaarheid vir verbruikers te gee.