Sake24 WEBWERWE/DIENSTE >

Verkope van bedrywighede vorder

2012-07-03 02:05
Die konstruksiegroep Murray & Roberts het ver gevorder met die verkoop van sy staalbedrywig­hede.

Dit sluit in die Cisco-fabriek in Kuilsrivier en die verspreidingswerf en -netwerk vir wapening­staal.

Murray & Roberts het vroeg verlede jaar die fabriek gesluit omdat hy van nie-kernbelange ontslae wil raak en sowat 400 werkers is afgelê.

Die groep het gesê hy kan nie die fabriek winsgewend bedryf nie.

Cisco het sowat ’n kwart van die plaaslik vervaardigde wapening­staal gelewer.

Tans is daar net drie groot verskaffers – ArcelorMittal se Newcastle-aanleg, Cape Gate se Dove Steel in die Vaaldriehoek en Score Metal in Germiston – en een kleiner verskaffer, SA Metal, in die Kaap.

Toe Mittal verlede jaar sy Newcastle-aanleg vir ’n paar maande moes sluit, het ’n tekort aan wapeningstaal ontstaan en meer moes ingevoer word.

Dit kos nie soseer meer nie, maar bemoeilik kontrakteurs se beplanning weens die lang afleweringstyd.

Rob Mountford, direkteur van die Suid-Afrikaanse vereniging van gewapendebetoningenieurs (Sarcea), sê dit is onwaarskynlik dat die verkoop van Murray & Roberts se staalbedrywighede sal lei tot die heropening van Cisco omdat die tegnologie verouderd is.

Daar is nie tans ’n tekort aan wapeningstaal nie, maar as een van die vier verskaffers vir ’n tydperk buite aksie is, sal dit groot probleme veroorsaak, sê hy.
«Terug