Johannesburg. – Dorbyl se vermoë om as ’n lopende saak voort te bestaan, is in die weegskaal, sê hy.
Die nywerheidsgroep, wat gister sy resultate vir die jaar tot einde Maart bekend gemaak het, het ná ’n teleurstellende vertoning in die tweede helfte van verlede jaar met ’n omkeerstrategie begin om sy sake te red.
Dit het sekere veranderinge aan sy aandeelhouding en bestuur ingesluit.
Dit is opgevolg met ’n bestuursooreenkoms met Reef Switchboard Manufacturers, ’n geaffilieerde maatskappy van ’n konsortium wat vroeër ’n belang in Dorbyl bekom het.
Die Reef-span is deur die direksie gevra om beheer van sy Guestro Castings-onderneming, sy enigste oorblywende bedryfsonderneming, oor te neem en dit is opgevolg deur ’n tydperk van herstrukturerings en verkope.
Die groep het in die oorsigtydperk ’n verlies voor belasting van R76,7 miljoen gely.
Hy het sy resultate as “teleurstellend en onbevredigend” bestempel.
Dorbyl het gister in ’n verklaring gesê hoewel die herstrukturering van die onderneming tot kostebesparings gelei het en die onderneming tans doeltreffender bestuur word, is dit nog te gou om aan te neem dat dié proses suksesvol sal wees.
Die groep sê sy gietonderneming het onder die huidige bestuur die beste kans om ekonomies lewensvatbaar te word.
Die aanleg is reeds geruime tyd onder margedruk en daar is by verskeie geleenthede oorweeg om dit te sluit.
Dorbyl sê die vervaardigingsbedryf beleef ’n moeilike tydperk en word ook geraak deur makro-ekonomiese faktore soos swakker ekonomiese groeivooruitsigte en die staatskuldkrisis in Europa.
“Die maatskappy se fokus op die vervaardiging van produkte vir infrastruktuurprojekte in Afrika sal hopelik oor tyd sy afhanklikheid (van dié mark) in ’n mate verminder.
“Daar is ’n behoefte by ’n groot aantal semi-staatsinstellings aan produkte in die energie-, spoor-, pad-, hawe- en kommunikasiesfeer,” sê die groep.
Dorbyl sê dié toestande dui op die wesenlike onsekerheid oor sy vermoë en dié van sy filiale om as lopende sake voort te bestaan.