Sake24

Waterbestuur kán geld maak

Deur: Francois Williams 2012-05-08 05:00
Kaapstad. – ’n Bedrag van R573 miljard is nodig om ’n geïntegreerde waterverskaffingstelsel vir Suid-Afrika in te stel, sê Edna Molewa, minister van water-  en omgewingsake.

Sy het op ’n konferensie van die Waterinstituut van Suider-Afrika (Wisa) gesê dit is beter om waterbesoedeling te voorkom as om dit  te probeer bestry as dit reeds gebeur het.  Afvalwaterbesoedeling en suur mynwater is die twee grootste bedreigings vir Suid-Afrika se waterbronne, het sy gesê. 

Die wyse waarop die toekenning van waterlisensies aan nuwe myne plaasvind, is ondoeltreffend, en Molewa meen ’n eenstop-diens is nodig waar mynmaatskappye om al hul nodige lisensies aansoek kan doen.  Aansoeke om ’n waterlisensie word gewoonlik ingedien lank nadat die myn sy mynlisensie by die departement van minerale bronne en omgewingsgoedkeuring by die departement van omgewingsake gekry het.

Dhesigan Naidoo, uitvoerende hoof van die Waternavorsingskommissie, het by die Unilever-byeenkoms oor korporatiewe waterrentmeesterskap,  wat deel was van die Wisa-konferensie, gesê studies in 2002 het getoon Suid-Afrika sal teen 2020 meer water gebruik as wat hy op lang termyn beskikbaar het, maar hy meen dié punt is al teen 2003 verbygesteek.

Suid-Afrika het volgens navorsing minder as 10 000 m³ per persoon per jaar water beskikbaar, Brasilië meer as 40 000 m³  en Saoedi-Arabië tussen 10 000 m³ en 20 000 m³.

Naidoo sê Suid-Afrika is agter wat waternavorsing betref. Vennootskappe tussen navorsers en die sakegemeenskap is nodig om tegnologie wat uit waternavorsing spruit, in sakegeleenthede te ontwikkel.

Jason Morrison, tegniese direkteur van die CEO Water Mandate, ’n internasionale veldtog om sakeleiers betrokke te kry by goeie waterbestuur, sê ondernemings word regstreeks deur die swak bestuur van waterrisiko geraak deurdat hul bedryfskoste styg en hulle beleggersvertroue inboet.


 
Lees meer oor:    water  |  omgewing  |  groen
«Terug