Sake24 WEBWERWE/DIENSTE >

Afrika-lugdienste: Vernuwing tel ál meer

Deur: Ingé Lamprecht 2012-12-23 21:51
Hamburg, Duitsland. – Lugdienste in Afrika besef toenemend dat hulle nuwe toerusting moet gebruik in ’n poging om doeltreffend en mededingend sake te doen.

Hadi Akoum, Airbus se visepresident vir verkope in Afrika, sê een van die vernaamste probleme by sommige lugdienste in Afrika is dat brandstofkoste sowat 70% van koste verteenwoordig terwyl die huur van vliegtuie of die finansiële koste verbonde aan die koop daarvan minder as 20% behels.

Lugdienste in Afrika belê egter toenemend in brandstofdoeltreffender vliegtuie. Air Arabia en Air Namibia het vroeër in Airbus se “brood-en-botter”-vliegtuig, die A320 belê, terwyl ook die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) vroeër vanjaar twee van dié vliegtuie in ’n huurooreenkoms bekom het. Die SAL sal na verwagting sy eie A320’s vanaf Junie volgende jaar in ontvangs neem.

Akoum sê hoewel daar heelwat laekostelugdienste in Afrika is, volg nie almal die laekostemodel met sy dinamiese prysingsmodel ten volle nie. Mango en kulula.com is voorbeelde van sulke lugdienste, meen hy.

Fastjet, ’n Londen-gesetelde laekostelugdiens wat reeds in onder meer Tanzanië sake doen, is waarskynlik een van die min wat dié model volledig volg.

Fastjet het pas ’n opsie-ooreenkoms aangegaan om 1time Airline vir R1 by sy beheermaatskappy te koop. Indien die oorname suksesvol is, sal Fastjet aanvanklik McDonnell Douglas-vliegtuie vir sy Suid-Afrikaanse roetes gebruik, maar hy sal uiteindelik sy hele vloot met Airbus A319-vliegtuie, wat deel uitmaak van die A320-familie, vervang.

Akoum sê die A320-familie word suksesvol deur laekostelugdienste ingespan en vandag gebruik 57 lugdienste wêreldwyd sowat 1 400 van hierdie vliegtuie.

Hy sê een van die voordele van dié vliegtuie vir laekostelugdienste is die dwarssnit wat genoeg ruimte en gemak vir passasiers verseker, maar ook toelaat dat die vliegtuig binne ’n halfuur gereed kan wees vir ’n volgende vlug.

Akoum sê indien ’n lugdiens 10 minute per vlug bespaar, kan hy daagliks ’n bykomende vlug inpas, wat beteken die vliegtuig staan minder op die grond en kan meer inkomste lewer.

Die joernalis het Hamburg op uitnodiging van Lufthansa en Airbus besoek.

Lees meer oor:    airbus  |  lugdiens  |  vliegtuie
«Terug