Johannesburg. – Die lugdiens British Airways (BA) oorweeg dit om sy bykomende somervlug tussen Kaapstad en Londen ’n permanente instelling te maak.
BA, wat plaaslik ’n franchise-ooreenkoms met Comair het, bedryf op die oomblik een daaglikse vlug tussen Kaapstad en Londen en ’n bykomende vlug gedurende die Suid-Afrikaanse somermaande.
Frank van der Post, besturende direkteur van handelsname en kliënte-terugvoering by BA, sê ’n finale besluit is nog nie geneem nie, maar die beskikbaarheid van vliegtuie en lughawe-gleuwe in Londen word ondersoek.
Hy sê die groep sal die reaksie op die nuwe somerskedule in ag neem en nader aan volgende jaar ’n besluit daaroor neem.
Sake24 het vroeër berig dat die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) later vanjaar sy regstreekse vlugte tussen Kaapstad en Londen staak.
Van der Post sê BA se sake op die roete tussen Londen en Suid-Afrika is gesond en hy het vroeër as gevolg van ’n groter vraag sy 14 vlugte per week met 3 retoervlugte tussen Londen en Johannesburg uitgebrei.
Hy meen daar is steeds ruimte vir uitbreiding, hoewel bilaterale ooreenkomste en regulatoriese vereistes waarskynlik sal keer dat meer regstreekse vlugte tussen Suid-Afrika en byvoorbeeld Oosterse lande ingestel word.
Roete-uitbreidings sal dus hoofsaaklik via ’n aansluitingsvlug in Londen moet geskied.
Die oorname van BMI vroeër vanjaar het die groep ’n verdere 42 land- en opstyggleuwe by die Heathrow-lughawe in Londen besorg.
Van der Post sê BMI het hoofsaaklik kort- en middelafstandroetes beman en sommige daarvan kan in langafstandvlugte omgeskakel word.
BA het vroeër aangekondig dat hy oor die volgende vyf jaar meer as £5 miljard sal belê om sy aanbieding te verbeter. Dit sluit nuwe vliegtuie in.
Altesame 12 nuwe A380’s is bestel, waarvan die eerste vroeg volgende jaar afgelewer word. Die res sal tussen 2014 en 2016 in gebruik geneem word.
Van der Post sê dié vliegtuig kan moontlik op die lugdiens se Johannesburg-roete ingespan word.
’n Verdere 24 Boeing 787 Dreamliners is ook bestel. Ses B777-300ER’s is reeds afgelewer en nog vier is bestel.
BA het die afgelope week sy nuwe bemarkingsveldtog in Suid-Afrika bekend gestel.