Johannesburg. – Die hotelgroep City Lodge gaan as deel van sy uitbreidingstrategie in Afrika ’n 50%-belang vir $18 miljoen bekom in ’n hotelgroep wat twee Keniaanse hotelle besit.
Die groep het gister aangekondig dat hy ’n ooreenkoms met die aandeelhouers van die Fairview Hotel-maatskappy, wat deur die Szlapak- en die Abbema-familie besit word, bereik het. Fairview besit en bestuur twee hotelle in die Upper Hill-gebied in Nairobi – die Fairview-hotel met 120 kamers en die aangrensende Country Lodge, wat 84 kamers het. Die Fairview-hotel sal sy naam behou. Country Lodge sal Town Lodge word in ooreenstemming met City Lodge se doel om sy handelsnaam in ander dele van Afrika te vestig.
Die transaksie sal op 1 Junie van krag word, onderhewig aan regulatoriese goedkeuring van die Reserwebank en in Kenia.
“Ons beskou dit as ’n gulde geleentheid om ’n aandeelhouding in twee goed bestuurde hotelle as ’n lopende saak te bekom,” sê Clifford Ross, uitvoerende hoof van City Lodge.
’n Gesamentlike onderneming is ook gevorm om verdere uitbreidingsgeleenthede in Oos-Afrika te ondersoek. Mark Abbema en Daniel Szlapak sal mede- uitvoerende hoofde wees. Die aanvanklike fokus is om persele vir ontwikkeling in Kenia, Tanzanië, Rwanda en Uganda te identifiseer.
Ross sê die groep het plaaslik ’n gesamentlike onderneming met die Hospitality Property Fund wat vyf van sy Courtyard-hotelle betref en dit is die eerste keer dat hy dié sakemodel buite Suid-Afrika gebruik. Die besluit is geneem omdat dit die groep ’n onmiddellike vasstrapplek in Oos-Afrika gee en die hotelle reeds ’n goeie kliëntebasis in veral die sakewêreld – ook in Suid-Afrika – het, sê hy. Hy meen dit kan ook sy uitbreidingsproses bespoedig.
City Lodge het vroeër aangekondig dat hy in Desember ’n Town Lodge met 106 kamers in Gaborone, Botswana – sy eerste buite Suid-Afrika – gaan open.
Hoewel die groep sy oë oophou vir verdere moontlikhede in Afrika, is daar nie tans spesifieke geleenthede geïdentifiseer nie, het Ross gister gesê. Die groep het verlede jaar gesê hy wil in die komende vyf tot tien jaar sowat R1,5 miljard in 20 hotelle op die vasteland belê.
City Lodge se aandeelprys het gister 1,26% laer op R78,99 gesluit.