Sake24

Lugbedryf kan dalk weer opstyg

Deur: Ingé Lamprecht 2012-06-17 05:00
Johannesburg. – Die wind het dalk gedraai, maar die ekonomiese weerstoestande vir lugdienste bly ongunstig.

Die bedryf het die laaste ruk gebuk gegaan onder ’n gedempte vraag van reisigers, hoë brandstof- en ander insetkoste.

Die onlangse daling in die olieprys tot minder as $100 per vat – nadat dit geruime tyd bo $120 was – word verwelkom, maar rolspelers meen ander ekonomiese faktore kan die daling grootliks teenwerk.

Tony Tyler, uitvoerende hoof van die internasionale lugvervoervereniging (Iata), het op die vereniging se jaarvergadering die afgelope week gesê die daling in die olieprys, sterker as verwagte groei in passasiersverkeer en die feit dat die vragvervoer ’n draaipunt bereik het, is positief vir die bedryf se winsvooruitsigte.

Hy het egter gewaarsku dat die Europese skuldkrisis vierkant in die pad van ekonomiese groei staan en winsvooruitsigte vir die jaar op $3 miljard hou, wat neerkom op ’n netto winsmarge van net 0,5%.

Ook in Suider-Afrika lyk die prentjie bra droefgeestig, hoewel die bedryf “optimisties is oor ’n herstel”.

Chris Zweigenthal, uitvoerende hoof van die lugdiensvereniging van Suider-Afrika (Aasa), sê terwyl die rand tussen R7,50 en R8,00 teenoor die dollar verhandel het, het die bedryf, wat in rand vir brandstof betaal, ’n effense voordeel gekry weens die laer olieprys, maar die rand het intussen verswak.

Teen sowat R8,30 word die voordeel van ’n laer olieprys verwater en lugdienste betaal uiteindelik min of meer dieselfde vir brandstof as wat hulle teen ’n ­hoër olieprys moes betaal.

Zweigenthal sê daar word verwag dat die olieprys weer sal styg tot nader aan $110 per vat.

Frank van der Post, besturende direkteur van handelsname en kliënteterugvoering van British Airways, wat plaaslik deur Com­air bedryf word, sê die olieprys speel ’n betekenisvolle rol in die groep se koste en dit sal beslis help as die olieprys minder as $100 per vat bly.

Weens swakker ekonomiese groei, wat laer oliepryse aandryf, kan dit egter gebeur dat die vermindering in omset heelwat groter sal wees as die besparings in brandstofkoste, meen hy.

Dit is een situasie waarin dit nogal moeilik is om te juig oor ’n laer olieprys, sê hy.

James Rigney, finansiële hoof van Etihad Airways, sê die groep het verlede jaar meer as $1 miljard aan brandstof bestee – byna 40% van sy koste, terwyl dit tien jaar gelede slegs 14% was.

“Elke klein verandering in die olieprys is dus vir ons betekenisvol en ’n daling in die olieprys verskaf welkome verligting,” sê hy.

Hy stem egter saam dat die Europese skuldkrisis en die gevolg­like swakker passasiersverkeer en kleiner vraag na vragvervoer grotendeels die bedryf se voordele weens die laer olieprys uitwis.

Die hoop beskaam egter nie.

Zweigenthal sê hy is optimisties oor die groeivooruitsigte, hoewel die herstel langer gaan neem as wat die bedryf graag sou wou hê. Hy meen lugdienste gaan nie gou weer soortgelyke groei as in die middel 2000’s ervaar nie en gedempte groei in passasiersvlakke is die bedryf se voorland. Verbruikers is versigtig en hou hul oë oop vir die beste aanbiedinge, wat pryse onder druk plaas.

Hopelik sal ’n verbetering volgende jaar intree, sê hy.

Die laekostelugdiens Velvet Sky moes vroeër sy bedrywighede staak, en Zweigenthal sê hy hoop nie daar is enige verdere ongevalle nie.

Hy verwag nie dat daar noodwendig samesmeltings in die bedryf sal plaasvind nie, maar hy meen die lugdienste sal maniere soek om hulle in die toekoms te help herkapitaliseer.

Moeilike handelstoestande sal aan die orde van die dag bly en aandeelhouers sal moontlik hul hulp moet aanbied.
 
Lees meer oor:    lugdienste  |  vliegtuie
«Terug