Johannesburg. - Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL)
sal van 1 Mei met ’n regstreekse vlug tussen
Johannesburg en New York begin.
Die lugdiens vlieg tans na New York via Dakar, Senegal.
Die SAL het gister ’n paar
veranderings aan sy netwerk en vlugskedule
aangekondig.
Mnr. Fani Zulu, die SAL se
woordvoerder, sê die aanpassings sal die SAL se produk versterk en verbeter. Hy sê die
regstreekse vlug na New York sal ook Johannesburg
se posisie as die spilpunt vir lugdienste in Sub-Sahara-Afrika vestig.
“Die Airbus A340-600-vliegtuie sal
gebruik word vir die regstreekse vlug,” sê Zulu.
Mnr. Theunis Potgieter, die SAL se
kommersiële bestuurder, sê die vlug is geskeduleer om 06:40 in New York te
land.
“Die vlugte sal daagliks vanaf
Johannesburg vertrek om 20:35 plaaslike tyd en sal
vinnige en gemaklike aansluitings bied na ander Amerikaanse stede soos Boston en
Chicago sowel as deelstate soos Florida en Kalifornië en ander omliggende lande
soos Kanada en die Karibiese Eilande.”
In die pas met die SAL se visie om sy
voetspoor in Afrika uit te brei, het die lugdiens
ook ’n paar veranderings aangekondig rakende vlugte in Afrika.
“Danksy die hoër vraag sal die SAL van vandag met wyeromp-vliegtuie wat meer passasiers
op ’n slag kan vervoer Nairobi toe vlieg,” sê Potgieter.
“Die verandering aan dié daaglikse vlug sal die vermoë verhoog van 2 918 sitplekke per week tot
3 500 sitplekke.” Van 27 Maart sal die SAL ook begin om wyeromp-vliegtuie te gebruik op 7 van
die 20 weeklikse vlugte tussen Johannesburg en Windhoek.
“Die getal sitplekke sal verhoog van
5 830 tot 6 746. Passasiers wat tussen Johannesburg en Nairobi of Windhoek reis,
sal voortaan ook op dié roetes in die sakeklas
sitplekke kan hê wat ten volle platslaan. Daar is ook meer ruimte op die groter
vliegtuie in die ekonomiese klas.”
Van 29 Maart sal die SAL ook ’n daaglikse vlug instel tussen Johannesburg en
Entebbe, Uganda, en ’n bykomende vlug na Harare sal ook aangebied word, wat die totale vlugte per week
na die hoofstad van Zimbabwe op 18 te staan sal
bring. Zulu sê die SAL het ook veranderings
aangebring op die binnelandse netwerk.
“Die getal sitplekke wat tussen Johannesburg en Kaapstad beskikbaar
is, sal verhoog danksy ’n bykomende geskeduleerde
vlug met ’n wyeromp-vliegtuig op dié roete,” sê Zulu.
Sake