Sake24

SAL staak lang vlugte uit Kaap

Deur: Carin Smith 2012-06-06 05:00
Kaapstad. – Toerisme-rolspelers het gister hul teleurstelling uitgespreek oor die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) se besluit om sy regstreekse vlugte tussen Kaapstad en Londen van 15 Augustus af te staak omdat dit nie meer finansieel sin maak nie.

Theunis Potgieter, hoofbestuurder van die SAL se kommersiële afdeling, het gister aangekondig slegs Johannesburg gaan vir die SAL se regstreekse vlugte na langafstandbestemmings gebruik word.

Alan Winde, Wes-Kaapse minister van finansies, ekonomiese ontwikkeling en toerisme, en Mariëtte du Toit-Helmbold, uitvoerende hoof van Kaapstad Toerisme, is albei teleurgesteld.

“Regstreekse internasionale vlugte is een van die beste maniere om internasionale toerisme en internasionale handel na ’n bestemming aan te wakker,” sê Winde.

Potgieter sê egter die afgelope drie jaar het die mark tussen Brittanje en Suid-Afrika vir alle lugdienste met 24% afgeneem.

Skerp hoër lughawebelasting in Brittanje en die R700-deurgangsvisum wat Suid-Afrikaners ontmoedig om via Londen te reis, het tot die lugdiens se besluit bygedra.

Suid-Afrika is onder die vyf lande wie se toeristegetalle na Brittanje tans die meeste afneem. Britte reis ook minder weens die drukkende ekonomie.

Boonop is die aansluitings­opsies wat die SAL tussen Heath­row en Europese bestemmings kan bied, nie meer so goed sedert sy voormalige Star Alliance-vennoot, British Midlands, verkoop is nie. Daar is ook beduidend minder streek- en internasionale aansluitings van Kaapstad as van Johannesburg af.

Die SAL gaan die vermoë van sy twee daaglikse regstreekse vlugte tussen Johannesburg en Londen met 13% vermeerder deur groter vliegtuie te gebruik.

“Die SAL vaar goed op sy binnelandse en Afrika-roetes. Sowat 95% van ons Afrika-roetes is winsgewend,” sê Potgieter.

“Ons grootste uitdaging met langafstandroetes is die stygende koste van brandstof. In 2011 het brandstof 32% van ons koste beloop en nou is dit 40%. Ons wil dus brandstofdoeltreffender vliegtuie gebruik.”

Die grootste groei in vraag is tans op die SAL se roetes na die res van Afrika, Asië, Australië en Latyns-Amerika. Daarom wil die lugdiens veral fokus op onder meer sy roetes tussen Johannesburg en Accra, Moembai en Perth. Hy beplan ook om na Abidjan te vlieg.

Auriel Newman, hoof van die SAL se lugvragverkope, sê die meeste lugvrag uit Kaapstad na Londen is bederfbare goedere. Sy verwag nie dat vlugte via Johannesburg ’n uitwerking hierop sal hê nie.

“Ons sal aanhou om gesamentlike bemarkingsgeleenthede met die SAL te soek in die markte waarheen die SAL vlieg,” sê Du Toit-Helmbold. “Al die regeringsvlakke en die private sektor moet saamwerk om meer ontspannings- en saketoeriste na die Kaap te lok en só te sorg vir meer regstreekse vlugte hierheen.”
 
Lees meer oor:    sal
«Terug