Sake24

SAL ‘vergeet’ om kontrak te hernieu

Deur: James-Brent Styan 2011-01-13 07:27
Johannesburg. - Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) sal teen die einde van die maand twee van sy vliegtuie wat tans gehuur word moet teruggee nadat die huurkontrak vir die vliegtuie verval het.

Daar word gegis dat die lugdiens se bestuur vergeet het om die kontrakte te hernieu. Mnr. Fani Zulu, SAL-woordvoerder, wou nie gister bevestig of ontken dat die kontrakte per ongeluk verval het nie.

Zulu het teen druktyd wel bevestig dat die lugdiens die twee Boeing 737-800’s eersdaags moet teruggee.

Hy het ook bevestig dat die SAL ’n derde Boeing gaan afstaan aan Mango, die SAL se laekostefiliaal.

Zulu sê egter die verlies van die drie vliegtuie is nie ’n “treinongeluk” nie.

“Die verlies van die vliegtuie beteken geensins dat enige van die SAL se bestaande roetes of frekwensies geraak sal word nie. Inteendeel, ons is steeds van plan om vanjaar ons netwerk aansienlik uit te brei en dit sal moontlik gemaak word deur onder meer die doeltreffender bestuur van die bestaande vliegtuie.”

Zulu sê die verlies van vliegtuie word eers ’n probleem wanneer die lugdiens nie langer sy verpligtinge kan nakom nie.

Dit is onduidelik wie verantwoordelik was vir die hernuwing van die kontrakte en die lugdiens het gistermiddag nog tot laat vergader om die situasie te bespreek.

Die SAL het ’n slegte geskiedenis ten opsigte van vliegtuigkontrakte. Dit het verlede jaar byvoorbeeld aan die lig gekom dat die lugdiens versuim het om ’n kontrak vir nuwe vliegtuie met Airbus te kanselleer. Die lugdiens het gedink die kontrakte is gekanselleer, maar dit was nie die geval nie.

Die twee 737’s wat nou verloor gaan word, is ’n belangrike deel van die SAL se binnelandse en streekbedrywighede.

Die lugdiens verwag verder om eers teen 2013 nuwe Airbus A320-vliegtuie in ontvangs te neem wat die Boeings sal kan vervang.

Die SAL het tans 21 van dié Boeing 737-800-vliegtuie in diens. Die vliegtuie kan 157 passasiers vervoer.

Zulu sê die SAL het die derde Boeing lank reeds aan sy laekostefiliaal, Mango, beloof vir gebruik op die roete tussen Kaapstad en Durban.

Die SAL het hom einde verlede jaar aan dié roete onttrek.

Die SAL sit met ’n balansstaat wat erg onder druk is met ’n swaar skuldlas. Dit is dus moontlik dat die lugdiens sal baat vind by die verval van die kontrakte.

Zulu wou ook nie oor dié moontlikheid kommentaar lewer nie.

“Aan die einde van die dag hang dit af van wat ons met ons bestaande vliegtuie doen. Dit mag net wees dat ons die bestaande vloot meer doeltreffend kan gebruik sonder om aan dienste of frekwensies te sny. As dit die geval was, beteken dit daar was ondoeltreffendhede in die manier waarop ons ons vliegtuie tevore bedryf het.”

Me. Kathy Bill, ’n woordvoerder van die SAL-vlieëniersvereniging (Saapa), sê die lugdiens het reeds aan Saapa bevestig dat die huurkontrakte van die twee vliegtuie nie hernieu is nie.

“Ons voer nou samesprekings met die lugdiens om te bepaal wat die impak van die minder vliegtuie sal wees.” Saapa verteenwoordig die ­vlieëniers wat vir die lugdiens werk.

Die staatsbeheerde lugdiens sal intussen steeds vanjaar begin om nuwe A330-200-vliegtuie in ontvangs te neem. Dié vliegtuie, waarvan die eerste reeds in die eerste kwartaal van 2011 verwag word, is egter bestem om op langafstandvlugte soos die roete tussen Johannesburg en Londen gebruik te word.
Sake
Lees meer oor:    huurkontrak  |  sal  |  vliegtuie
«Terug