Beijing. – Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) se regstreekse vlug tussen Johannesburg en Beijing word al hoe gewilder
Dié vlugte is in Februarie ingestel. Daar is tans drie per week en die oogmerk is om ’n daaglikse vlug in te stel sodra die vraag genoeg toegeneem het.
Theunis Potgieter, die SAL se hoofbestuurder van kommersiële bedrywighede, sê Suid-Afrikaanse sakereisigers gebruik toenemend die vlug, asook mense van elders in Afrika, veral byvoorbeeld Angolese.
Die vlug is ook gewild by Suid-Amerikaners wat nou via Johannesburg na Asië reis.
Die vliegtuie is tans sowat 65% vol en die SAL sou dit so gou moontlik op minstens 80% wou kry.
“Ons sou graag wou hê dat meer Suid-Afrikaanse toeriste die vlug gebruik om China te besoek.
“Ons wil ook meer Chinese toeriste na Suid-Afrika lok en het ’n paar miljoen rand aan ’n bemarkingsveldtog daarvoor bestee,” sê hy.
“Ons besef egter dit neem gewoonlik sowat 12 maande om ’n nuwe roete behoorlik te vestig.”
Hy sê die vlugte tussen Johannesburg en Beijing het nie ’n negatiewe impak op die SAL se regstreekse vlugte tussen Johannesburg en Hongkong gehad nie.
Laasgenoemde is volgens hom eerder ’n natuurlike spil vir passasiers wat na onder meer Suid-Korea, Taiwan en die Filippyne reis.
Die SAL wil later ook ’n regstreekse vlug tussen Johannesburg en Sjanghai in China instel.
“Die Sjanghai-vlug behoort uiteindelik gewilder by sakemense te wees as die een na Beijing, wat dan waarskynlik meer deur regeringsamptenare en ontspanningstoeriste gebruik sal word,” sê Potgieter.