Sake24 WEBWERWE/DIENSTE >

Spele-inkomste oortref $8 miljard

Deur: Niel Joubert 2012-08-12 17:51
Johannesburg. – Brittanje sal nog die impak van sy Olimpiese (finansiële) triomf voel lank nadat 2016 se sterre hul medaljes weggepak het.

Sports Market Intelligence raam dat die 2012-skouspel, wat vandag in Londen ten einde loop, saam met die Winterspele in 2010 in Vancouver, Kanada, vir die eerste keer ’n inkomste van meer as $8 miljard gehad het.

Daarby kan die Britse ekonomie ’n bykomende hupstoot van ’n geskatte £5 miljard oor die volgende vyf jaar kry.

Dit is danksy ’n toename van 52% in die waarde van mediaregte vergeleke met die vorige siklus (die Olimpiese Spele van 2008 en die Winterspele van 2006).

Mediaregte is nou vier keer soveel soos die $957 miljoen wat verdien word van die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK) se top-borge, wat Coca-Cola, McDonald’s, Acer, Panasonic en Visa insluit.

Nog $3,91 miljard kom van me­diaregte en $989 miljoen van die Vancouver-Spele se reëlingskomitee.

Sowat $2,14 miljard is deur die Londense reëlingskomitee ingesamel – $1,08 miljard uit plaas­like borgskappe, $931 miljoen uit kaartjieverkope en $125 miljoen uit lisensies.

Volgens die IOK word sowat 90% van die inkomste van die Spele aan organisasies binne die Olimpiese beweging, soos nasionale Olimpiese komitees en internasionale sportfederasies, oorgedra.

Die res word vir bedryfs- en administratiewe koste gebruik.

Om die Spele – die naasgrootste sportbyeenkoms ter wêreld – te hou, kos ook ’n enorme klomp geld.

In 2007 het die Britse regering ’n finansieringspakket van £9,3 miljard vir die Olympic Delivery Authority (ODA) bekend gemaak.

Die ODA was verantwoordelik vir die konstruksie van die stadions en ander infrastruktuur vir die Spele in Londen en is betrokke by die gebruik daarvan daarna.

Die London Organising Committee of the Olympic Games (Locog) het die voorbereiding vir die Spele en die gebeurtenis gehanteer en sy finansiering het hoofsaaklik van die private sektor gekom.

Locog het ’n begroting van £2 miljard en maak geld uit onder meer borgskappe, uitsaairegte, inkomste van die IOK en die verkoop van gebruiksartikels en kaartjies.

Paul Deighton, uitvoerende hoof van die reëlingskomitee, het aan Reuters gesê hy verwag dat hulle sal gelykbreek.

Volgens Yahoo! Finance het net die openingseremonie om en by £80 miljoen gekos.

Sowat 16 500 sportlui het aan die Spele deelgeneem, 4 000 teg­niese beamptes en 4 000 Olimpiese amptenare was betrokke en 21 000 lede van die media is vir die geleentheid geakkrediteer.

Die ekonomiese voordele van die Spele gaan luidens “London 2012: What is the economic impact on the UK?” – ’n verslag wat Oxford Economics in opdrag van Lloyds Banking gedoen het – na verwagting £16,5 miljard (in 2012-terme) oor 12 jaar tot Brittanje se bruto binnelandse produk (BBP) bydra.

Hiervan gaan 82% na verwagting die gevolg wees van die konstruksiebedrywighede voor en ná die Spele en 12% uit toerisme.

Daar is verwag dat die getal toeristebesoeke vanweë die Spele met 10,8 miljoen sou toeneem tussen 2005, toe die Spele aan Londen toegeken is, en 2017.

Net minder as die helfte van die £2 miljard-impak van toerisme op die BBP sal ná die Spele gebeur.

Volgens Sports Market Intelligence sal ’n mens eers oor tussen drie en vier jaar weet hoe groot die sukses was.

“Ten slotte,” sê die groep, “dit wil voorkom of die Londense Olimpiese Spele van 2012, as daar voldoen word aan al die beloftes en verwagtinge, wel daarop aanspraak sal kan maak dat dit een van die grootste sportbyeenkomste nóg was, maar teen die tyd dat ons uitvind of dit wel so is, is die Wêreldbeker-sokkertoernooi in 2014 in Brasilië en die Olimpiese Spele in Rio de ­Janeiro in 2016 met ons.”


«Terug