Sake24 WEBWERWE/DIENSTE >

JSE-groepe baat meeste

Deur: David van Rooyen 2012-07-06 00:12
Johannesburg. – Genoteerde maatskappye wat met Sake24 ­sake doen, geniet meer voordele as wat hulle besef.

Dit is die slotsom van onafhanklike navorsing wat die navorsingsagentskap DMA pas in opdrag van Sake24 voltooi het.

Een van die belangrikste bevindings is dat die waarde van redaksionele dekking wat ge­noteerde maatskappye in Sake24 geniet, veel meer is as die ad­vertensie-inkomste wat van die maatskappye ontvang word.

Dié navorsing is op versoek van Sake24 gedoen in ’n tyd dat die JSE dit oorweeg om reëls vir die publisering van finansiële advertensies in die media te verslap.

Dit kan meebring dat bestaande finansiële advertensies, wat belangrike inligting oor maatskappye se finansiële prestasie dra, kan verskraal of selfs heeltemal wegval.

Die JSE voer aan dat die verandering in reëls nodig is omdat maatskappye sê die advertensies in koerante is duur en hulle gaan gebuk onder kostedruk.

Ross Mengel, besturende direkteur van DMA, sê die navorsing is oor een maand gedoen en die doel was om eerstens vas te stel wat die persentasie redak­sionele dekking is wat Sake24 aan genoteerde maatskappye verleen teenoor Sake24 se totale redaksionele dekking.

Die tweede doel was om vas te stel wat die randwaarde van die redaksionele inhoud oor genoteerde maatskappye was en dit te vergelyk met die waarde van die advertensies wat genoteerde maatskappye in Sake24 plaas.

“Ons het bevind meer as die helfte van die redaksionele dekking – ongeveer 57% – in Sake24 gaan oor die verslagdoening van genoteerde maatskappye.

Gebruik ’n mens die tarief vir swart-en-wit-advertensies, beloop die randwaarde van die redaksionele kopie in die oorsigmaand sowat R5,3 miljoen. Gebruik ’n mens die tarief vir volkleur-advertensies, beloop die waarde sowat R7,5 miljoen.”

Ainsley Moos, hoofredakteur en uitgewer van Sake24, sê as ’n mens in ag neem dat Sake24 se advertensie-inkomste uit finansiële advertensies minder as die helfte van die genoemde bedrae is, is dit duidelik dat genoteerde maatskappye groter voordeel geniet wanneer hulle met Sake24 sake doen.

“In die lig van die JSE se voorgestelde planne om die vereistes vir finansiële advertensies te verslap omdat dit, onder meer, ’n koste-kwessie vir maatskappye is, is dit duidelik dat genoteerde maatskappye die risiko loop om meer te verloor as sake-publikasies soos Sake24.

“’n Mens sou dink dat maatskappyhoofde hierdie feit in hul besluitneming verreken. Die navorsing wys duidelik die netto voordeel gaan na die genoteerde maatskappy, nie na ons nie.”


«Terug