Sake24 WEBWERWE/DIENSTE >

Spear-skildery verdien R25 m gratis publisiteit

2012-05-24 05:00
Die elektroniese debat oor die ­satiriese skildery The Spear het 108 miljoen mense – twee keer meer as die Suid-Afrikaanse ­bevolking – bereik en gratis publisiteit van R25 miljoen gegenereer.

Dít blyk uit ’n ontleding van die elektroniese handelsnaambestuursmaatskappy BrandsEye.

Tarryn Walker, uitvoerende hoof van BrandsEye, sê die syfers is besonder hoog , veral vergeleke met die publisiteit wat die dissiplinêre verhoor van die ANC-jeugliga gekry het.

Die waarde van die gratis elektroniese publisiteit van dié verhoor was byna R2 miljoen.

BrandsEye sê 43 470 mense het hul mening oor die skildery gelug op sosiale netwerke, meestal op Twitter.com.

Walker sê gespreksdeelname het oor die laaste twee dae baie toegeneem namate die situasie ontvou het.

Gesprekke het verlede Donderdag begin toe die skildery in 794 gesprekke genoem is.

Teen Vrydag het dit tot 6 044 toegeneem en teen eergister, nadat die skildery beskadig is, het dit toegeneem tot net minder as 45 000.

Wat opval uit die elektroniese gesprekke is dat die sentiment bykans daagliks verander het.

Die aanvanklike gesprekke was oor die politieke inhoud daarvan en die vernedering vir die president.

Daarna het dit verander na vryheid van spraak en Maandag is die gesprekke oorheers deur opmerkings oor rassisme.

Dinsdag is gekenmerk deur die regstappe wat die ANC doen teen die Goodman-galery, maar nadat die skildery op dié dag gevandaliseer is, het die getal gesprekke toegeneem van 4 000 tot 6 574.

– I-Net Bridge
 
Lees meer oor:    jacob zuma  |  spear
«Terug