Johannesburg. – Die wêreldmarkte het gister begin boontoe kruip, maar beleggers is steeds bekommerd dat Griekeland dalk die eurogebied sal verlaat.
Die JSE se indeks van alle aandele het 0,92% sterker gesluit op 33 794 punte.
Die rand het gisteroggend tot sover as R8,40 teenoor die dollar verswak, maar gisteraand vroeg teen R8,29 verhandel.
Dr. Angela Merkel, Duitsland se kanselier, het beleggers Dinsdagaand gepaai ná haar eerste vergadering met François Hollande, Frankryk se nuwe president.
Merkel het gesê sy en Hollande stem saam dat Griekeland in die eurogebied moet bly.
Hollande wil ’n beleid wat ekonomiese groei sal aanwakker, voeg by die fiskale ooreenkoms wat Merkel en sy voorganger, Nicolas Sarkozy, in die eurogebied help instel het.
Intussen het Grieke egter vandeesweek reeds honderdmiljoene euro’s uit die land se banke onttrek om dit na ander eurolande te skuif.
Reuters het gister berig dat die Europese Sentrale Bank (ESB) nie meer geld aan sommige Griekse banke kan leen nie omdat dié banke reeds te min kapitaal het om as solvent beskou te word.
Charles Dallara, wat aan die hoof gestaan het van die onderhandelings tussen Griekeland en die land se private krediteure, het ook gesê die uitvloei van kapitaal uit die land sal stabiliseer indien Griekeland in die eurogebied bly.
Dallara het gesê dit sal “iets tussen katastrofies en Armageddon wees” as Griekeland die eurogebied verlaat.
Volgens peilings wil sowat 80% van Grieke in die eurogebied bly.
Die Syriza-party, wat tans die gunsteling is in die land se opvolgverkiesing op 17 Junie, het ook belowe om nie met die euro weg te doen nie.
Die party wil egter nie hou by die vorige regering se beloftes van besuiniging nie, hoewel Europese leiers dit duidelik gemaak het dat Griekeland nie nog finansiële hulp sal kry indien dié beloftes verbreek word nie. José Manuel Barroso, president van die Europese Kommissie, het gister gesê die Grieke moet besef dat hulle self gaan bepaal of die land in die eurogebied bly.
“Ons moet aan mense sê dat die (besuinigingsprogram) die beste is van al die moeilike alternatiewe wat daar is.”