Johannesburg. – Die JSE se indeks van alle aandele het gister 1,47% laer op 33 252 punte gesluit.
Gary McNamara, portefeuljebestuurder van Sanlam Private Beleggings, sê die JSE het gister deur die bank pak gekry, met markte wêreldwyd wat nie meer veel hoop oor het vir die beraad van die Europese Unie (EU) nie.
“Hul prestasiegeskiedenis is nie baie goed nie. Die mark verwag regtig nie iets wonderliks nie.”
Die nywerheidsindeks is die swaarste gestraf en het 1,82% laer gesluit, met Naspers, MTN en SABMiller se aandeelpryse wat al drie veld verloor het.
Die rand het teenoor die dollar teruggesak en gisteraand vroeg teen R8,43 verhandel.
McNamara sê beleggers hou waarskynlik ook die beleidskonferensie van die ANC in gedagte.
“Daar was reeds sprake van superbelastings en die onsekerheid oor beleid versterk nie beleggersvertroue in Suid-Afrika nie.”
McNamara sê dié onsekerheid kan buitelandse beleggers aanspoor om liewer nou wins te neem op hul Suid-Afrikaanse aandele.
Die EU-beraad het gister in Brussel afgeskop met sprake van planne om Italië en Spanje te help om finansieringskoste in toom te hou.
Jyrki Katainen, Finland se premier, het gesê die EU-leiers sal die moontlikheid bespreek om Spaanse en Italiaanse staatseffekte te koop om druk op dié lande te verlig.
“Ek het gekom vir vinnige oplossings om lande te ondersteun wat swaarkry in die markte,” het pres. François Hollande van Frankryk gister met sy aankoms in Brussel gesê.
Europese aandelemarkte het gister veld verloor en die opbrengskoers op Spaanse staatseffekte het gister weer tot bo die 7%-kerf geklim.
Italiaanse opbrengskoerse het 6% verbygesteek.
Marksentiment in Europa is ook geknou deur die nuus dat die Duitse werkloosheidskoers in Junie met meer as verwag geklim het.
Intussen het die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) gister gesê onderhandelinge oor moontlike veranderinge aan die voorwaardes vir Griekeland se internasionale lening sal begin nadat ’n ondersoekspan die land volgende week besoek het.
“Ons prioriteit is om na die nuwe regering te luister en te hoor wat sy sienings is,” het Gerry Rice, woordvoerder van die IMF, gister in Washington gesê.