Graham Ledbitter, portefeuljebestuurder by BoE Private Clients, sê die JSE kon vanjaar op die rug ry van die Britse en Amerikaanse aandelemarkte wat van lae vlakke af begin herstel het. Kleinhandelaars en banke se aandeelpryse kon egter ook klim danksy beleggers se sekerheid dat die Reserwebank die rentekoers nog ’n geruime tyd laag gaan hou.
Hy sê buitelanders het ook aandele begin koop in Suid-Afrikaanse maatskappye wat na Afrika wil uitbrei. Só hoop hulle om met aandele in Shoprite, Tiger Brands, Standard Bank, Nedbank MTN en Vodacom blootstelling te kry aan die Afrika-groeiverhaal.
Suid-Afrikaanse maatskappye wat meestal in die buiteland sake doen, het ook vanjaar voordeel getrek uit die swakker rand. Dit sluit in BHP Billiton, British American Tobacco, SABMiller en Richemont, wat saam ongeveer 20% van die JSE se algehele indeks uitmaak.
Plaaslike maatskappye wat hul produkte uitvoer – soos Aspen, CapeVin, Distell en Exxaro – het ook ’n hupstoot gekry uit die swak rand.