Johannesburg. – Die wêreldmarkte het gister skerp gedaal nadat die Europese Sentrale Bank (ESB) nie onmiddellike stappe teen die streek se skuldkrisis aangekondig het soos wat beleggers gehoop het nie.
Die JSE se indeks van alle aandele, wat net die vorige dag ’n nuwe hoogtepunt bereik het, het binne minute met 1% gedaal nadat die ESB aangekondig het dat die eurogebied se rentekoers, tans 0,75%, vir eers onveranderd bly.
Die wêreldmarkte het aanvanklik deur die bank veld verloor, maar daarna sywaarts begin skuifel.
Die JSE het later ietwat verstewig en die dag net 0,11% laer op 35 033 punte afgesluit.
Die rand het kort ná die aankondiging tot so laag as R8,40 teenoor die dollar teruggesak. Teen gisteraand vroeg het dit teen R8,38 verhandel.
Beleggers het al hul hoop op dr. Mario Draghi, president van die ESB, gevestig nadat hy verlede week belowe het dat die ESB alles moontlik binne sy mandaat sal doen om die euro te behou.
Graham Ledbitter, portefeuljebestuurder by BoE Private Clients, sê markte het te veel verwag van die ESB se rentekoersaankondiging.
“Draghi het belowe om te doen wat nodig is, maar hy het nooit gesê hy gaan dit hierdie week doen nie.”
Bennie van Wyk, portefeuljebestuurder van Sanlam Private Beleggings, sê beleggers het verlede week aandele gekoop op grond van gerugte en vandag verkoop toe die feite duidelik word.
“Markte is teleurgestel en onsekerheid is weer terug. Niemand weet wanneer hulle stappe gaan doen nie. In Augustus? September?”
Draghi het wel gister gesê die ESB gaan in “die komende weke” meganismes op die been bring “om nie-standaard- monetêre maatreëls in te stel”.
Draghi se toespraak het nie veel besonderhede van dié planne verklap nie, maar beleggers meen dit verwys daarna dat die ESB staatseffekte by skuldbelaaide lande soos Spanje en Italië sal koop.
Draghi het gesê dié lande betaal tans besonder hoë premies om geld te kan leen.
“Premies vir risiko wat te doen het met vrese dat die euro tot niet sal gaan, is onaanvaarbaar. Die gebruik van die euro is onomkeerbaar.”
Hy het egter ook gesuggereer dat wanneer hul finansiële stabiliteit bedreig word, regerings eers die Europese Unie (EU) se hulpfondse moet gebruik om in effektemarkte in te gryp.
“Dit is ’n voorvereiste dat regerings hulle by hul verpligtinge hou en [die EU se hulpfondse] sy rol vervul.”
Draghi het gesê die ESB verwag dat die eurogebied se ekonomie baie stadig gaan herstel, maar die bank het besluit ’n rentekoersverlaging is nie nou gepas nie.
Ledbitter sê wêreldwye ekonomiese toestande bied aan markte geen geldige rede om te klim nie.
“Dinge lyk sleg. Die aanname dat iets gedoen gaan word om die situasie te verbeter, is nie ’n grondige rede vir ’n verbetering in die markte nie.”