Johannesburg. – ’n Partytjie wat vinnig fut verloor.
Dít is hoe sommige ontleders die situasie op die JSE opsom.
Die indeks van alle aandele van die JSE het, te midde van erge wisselvalligheid, van begin vanjaar tot eergister met 1,73% gestyg, maar ’n regstelling is onafwendbaar.
Die styging tot dusver is volgens Mark Ainsley, beleggingstrateeg van Citadel, hoofsaaklik te danke aan stygings in nywerheids- en finansiële aandele, wat nog nie onderhewig was aan die politieke en ekonomiese onstuimigheid in die wêreld nie.
Tot dusver vanjaar is die hulpbronsektor die enigste waarin ’n noemenswaardige regstelling plaasgevind het en dié indeks is nou 20% laer as begin vanjaar.
Dit lyk egter asof die situasie vir ander sektore ook vinnig kan verander. Ainsley sê die pryse van aandele in baie sektore is gans te hoog en dit sal “ver moet val” om weer vir beleggers waarde te bied.
Bewegings in die aandeelpryse van maatskappye wat in die laaste paar weke resultate aangekondig het – veral dié in die kleinhandelsektor – is ’n bewys hiervan.
Aandeelpryse het gedaal, selfs dié van maatskappye waarvan die resultate in die huidige ekonomiese klimaat as goed beskou kan word.
Alwyn van der Merwe, beleggingshoof van Sanlam Private Beleggings, sê omdat die aandele van baie maatskappye teen ’n hoë prys-verdienste-veelvoud verhandel, is die verwagting van goeie resultate reeds in die aandeelprys weerspieël.
“As die maatskappy se verdienste dan nie aan die markverwagtinge voldoen nie, sal die aandeelprys daaronder ly.” Net ’n effense teleurstelling is genoeg om verkope van aandele aan die gang te sit.
Nino Frodema, ’n beleggingsontleder van Momentum Batebestuur, sê van die pryse van kleinhandel- en sommige ander nywerheidsaandele het geen ruimte gelaat vir teleurstellings nie.
“Die prys wat beleggers vir hul aandele betaal het, veronderstel ’n veel beter styging in verdienste as wat die maatskappy behaal het.”
’n Goeie voorbeeld is die aandeelprys van Mr Price, wat die afgelope week ’n stewige klap van die mark gekry het. Ten spyte van ’n sterk styging van 20,1% in sy verdienste, was die mark nie tevrede nie en die aandeelprys het ná die aankondiging van sy resultate met 5,4% gedaal. “Die mark het vir baie meer betaal en baie meer verwag.”
Die einde van die joligheid kan dalk juis ingelui word deur die goeie verdienste wat maatskappye nou aankondig.
Van der Merwe sê daar is vraagtekens oor die volhoubaarheid van die groei in verdienste van meer as 10% van die maatskappye wat nou goeie verdiensteverbeterings aankondig.
“Die volgende resultate sal gemeet word aan die groei in verdienste wat in die vorige verslagtydperk behaal is.”
Frodema sê die daling in aandeelpryse word ook bepaal deur makro-ekonomiese faktore, wat tans hoofsaaklik wentel om Griekeland en die Europese Unie.
“As die makro-ekonomiese omstandighede verswak, verkoop beleggers heel eerste hul aandele weens die risiko wat dit inhou, ongeag die vertoning van die maatskappy.”
Dit is klaarblyklik wat nou op die Suid-Afrikaanse aandelebeurs gebeur, en veral buitelanders wat groot beleggers was, kies die hasepad.
Ainsley sê Suid-Afrikaanse aandele in alle sektore is siklies sterk gekoppel aan die wêreldekonomie en die finansiële en nywerheidsaandele sal binnekort die tendens van die hulpbronsektor volg.
Tegniese daaltendens is moontlik
Frans de Klerk, tegniese ontleder van Sake24, sê die indeks van alle aandele – wat Vrydag op 32 989,9 gesluit het – is in ’n tegniese daaltendens waarvan die onderste band op 32 500 punte is. Hy sê die daaltendens sal beëindig word as die indeks deurslaggewend bó 33 400 uit die kanaal breek. As die indeks onder dié vlak konsolideer, stuur dit negatiewe tegniese tekens uit.