Johannesburg. – Positiewe maatskappyverdienstes en goeie nuus vir die Amerikaanse huismark het aandelemarkte gister in die swart gehou.
Die JSE se indeks van alle aandele het 0,97% hoër gesluit op 34 035 punte.
Die hulpbronne-indeks het met 1,11% verstewig en die finansiële indeks met 1,19%.
ArcelorMittal se aandeelprys het egter die verste nog teruggesak in die afgelope vier maande en met 3,7% getuimel tot R49,32.
Die rand het vroeg gisteraand teen R8,15 teenoor die dollar verhandel.
Dit het vroeër in die dag veld verloor tot R8,20 ná die laer inflasiekoers bespiegelinge oor die moontlikheid van ’n rentekoersverlaging versterk het.
’n Laer rentekoers kan die rand benadeel deur drahandel na Suid-Afrika te knou.
Dié beleggings verwys na buitelanders wat geld in Suid-Afrika kom belê om wins te maak uit die land se relatiewe hoër rentekoers teenoor dié in ander lande.
Die goudprys het vandag verder teruggesak tot selfs $1 568 en vroeg gisteraand steeds naby $1 575 verhandel.
Europese markte is boontoe gehelp ná banke se verdienste beleggers verras het en tegnologiemaatskappye in New York geklim het.
Marksentiment is ook versterk deur die onverwagte nuus dat bouwerk aan nuwe huise in Amerika verlede maand met 6,9% toegeneem. Dit was die sterkste verbetering sedert Oktober 2008.
Beleggers het gister ook gulsig aangehou om Amerikaanse staatseffekte en dollars te koop.
Vraag na dié bates is aangevuur deur dr. Ben Bernanke, voorsitter van die Amerikaanse Federale Reserweraad (Fed), se tweede dag van verslagdoening aan die land se senaat.
Bernanke het herhaal dat die Amerikaanse regering se huidige finansiële posisie onvolhoubaar is en dat die ekonomie steeds stadig herstel.
Hy het Dinsdag gewaarsku dat Amerika in ’n vlak resessie kan verval indien die land aan die einde van vanjaar oor die gevreesde fiskale afgrond stort.
Dié afgrond verwys na beleid wat staatsbesteding aan die einde van vanjaar outomaties sal besnoei en ook sekere belastingvergunnings tot niet sal maak.
Bernanke het weer versuim om enige detail te verskaf oor moontlike stappe wat die Fed sal doen om die Amerikaanse ekonomie te stimuleer.