Sake24 WEBWERWE/DIENSTE >

Hoop op stimulus beur beleggers op

Deur: Niel Joubert 2012-07-19 21:32
Johannesburg. – Die rand het gister verswak en Suid-Afrikaanse staatseffekte het ver­stewig nadat die Reserwebank die repokoers onverwags verlaag het.

Die rand het teen die sluiting van die JSE teen R8,19 teenoor die dollar verhandel.

Opbrengste op staatseffekte wat in 2015 verval, het met 35 ­basispunte tot 5,42% gedaal.

Mike Keenan en Mamokete Lijane van Absa Capital sê hoewel die rand in reaksie op die rentekoersverrassing verswak het, kan die monetêre verslapping buitelandse effektebeleggers trek, wat sal verhinder dat die plaaslike geldeenheid veel verder sal verswak.

Keenan en Lijane sê die rand bly op kort termyn kwesbaar vir die swak internasionale ekonomie, maar glo dat die rand teen einde vanjaar tot minder as R8 teenoor die dollar sal versterk vanweë ’n invloei van kapitaal na Suid-Afrika.

Malcolm Moller, ’n handelaar van Vunani Sekuriteite, sê die JSE het heeldag voor die Reserwebank se aankondiging sterker geneig en die rentekoers­besluit verdiskonteer.

Nadat negatiewe syfers in die VSA bekend gemaak is, het dit egter ietwat gedaal, maar toe weer kop opgelig.

Die JSE se indeks van alle aandele het 0,75% of 257 punte hoër op 34 292 punte gesluit.

Die nywerheidsindeks het met 1,21% verstewig en die hulpbronindeks met 0,72%.

Wêreldmarkte het geklim vanweë bespiegeling dat regerings gaan optree om ekono­miese groei aan te wakker, berig Bloomberg.

Dr. Ben Bernanke, voorsitter van die Amerikaanse Federale Reserweraad, het Dinsdag gesê beleidmakers is besig om opsies te oorweeg vir verdere kwantitatiewe verruiming.

Gistermiddag laat was die Duitse DAX-indeks 1,05% hoër, die CAC-indeks in Frank­ryk 0,83% hoër en die Britse FTSE 100-indeks 0,47% hoër.

Op Wall Street was die Dow Jones-­nywer­heidsindeks ná die sluiting van die JSE sowat 0,23% hoër en die S&P?500-indeks 0,31% hoër.

Amerikaanse aandeelpryse het aanvanklik gestyg nadat maatskappye soos IBM en eBay aankondigings oor beter as verwagte verdienstes gedoen het.

Dit het egter kortstondig laer gedraai nadat inligting gewys het dat huisverkope onverwags afgeneem het, leidende ekonomiese aanwysers verder gedaal het as wat verwag is en die Federale Reserwebank van Philadelphia gesê het vervaardiging in dié streek het vir ’n derde agtereenvolgende maand gekrimp, berig Bloomberg.

Die stygings in aandeelpryse is egter hervat vanweë die bespiegelinge oor verdere kwantitatiewe verruiming.


«Terug