Johannesburg. – Die JSE gaan op 1 Julie transaksiegeld verlaag om handelsvolumes in die snel groeiende effektemark te versterk.
Dit geld kontant-, termyn- en opsiekontrakte in die effektemarkte.
Die beurs het begin vandeesmaand ook die gelde vir transaksies in afgeleide instrumente in die kommoditeitsmark verlaag.
Warren Geers, hoofbestuurder van die JSE se afdeling vir effekte en afgeleide finansiële instrumente, sê die beurs se kliënte sal in totaal R3,6 miljoen kan spaar te danke aan die laer gelde. Hierdie syfer is gegrond op verlede jaar se handelsvolume in rentedraende produkte op die JSE.
Die grootste besparing, van R2,8 miljoen, sal op kontantkontrakte in die effektemark wees.
Geers sê termynkontrakte vorm ongeveer 80% van die JSE se mark vir rentedraende afgeleide instrumente en dié kontrakte was in die eerste kwartaal reeds 74% meer op ’n jaargrondslag.
Hy sê die handelsvolumes van R6 000 miljard in die kontanteffektemark verdwerg steeds die mark vir termynkontrakte.
Die nuwe kostestelsel sal markmakers ook nou groter korting gee op grond van die handelsvolumes wat hulle na die mark bring.
Markmakers is makelaars wat bereid is om effekte te hou en koop- en verkooppryse daarvoor beskikbaar te stel. Ander markdeelnemers koop dan die effekte by die markmaker.
“Ons hoop om groter deursigtigheid te bevorder deur markmakers aan te spoor om regstreekse handel in die effektemark te verhoog,” sê Geers.
Buitelanders was tot dusver vanjaar netto kopers van R37,2 miljard se effekte op die JSE. Hulle was ook netto kopers van R2,09 miljard se aandele.