Johannesburg. – Die JSE het vanjaar hoër as ooit tevore geklim, maar die beurs kan volgende jaar selfs verder styg danksy minder politieke onsekerheid ná die ANC se afgelope Mangaung-konferensie.
Die JSE se indeks van alle aandele het vandeesweek vir die eerste keer deur 39 000 punte gebreek en na ’n nuwe rekord van 39 317 punte geklim.
Die indeks het vanjaar reeds met 22,3% geklim. Die nywerheidsindeks het die grootste styging, naamlik 39,7%, aangeteken. Die finansiële indeks het 32,6% gewen. Die hulpbronne-indeks kon tot dusver vanjaar net gelykbreek.
Drikus Combrinck, portefeuljebestuurder van PSG Konsult, sê die JSE se prestasie weerspieël hoe internasionale markte vanjaar herstel het namate risiko’s wat beleggers wêreldwyd gekwel het, begin verdwyn het.
Combrinck sê plaaslike onsekerheid het vanjaar ook ’n risiko-premie op Suid-Afrikaanse aandeelpryse geplaas en dit sodoende onder druk gehou.
Hy meen daarom dat Suid-Afrikaanse aandeelpryse volgende jaar nog verder kan styg en net so goed soos vanjaar kan vaar omdat baie van dié onsekerheid ná Mangaung uit die weg geruim is.
“Nasionalisering is van die tafel af en baie van die vrese wat beleggers oor Mangaung gehad het, het nie waar geword nie.”
Hy sê veral hulpbronaandele, wat vanjaar die JSE se swakste presteerders was, sal kan voordeel trek uit minder kommer oor nasionalisering.
Combrinck sê groter sekerheid oor plaaslike beleid kan ook die ekonomie volgende jaar ’n hupstoot gee as ondernemings die vrymoedigheid kry om weer in die land uit te brei en te belê.
Graham Ledbitter, ’n portefeuljebestuurder van BoE Private Clients, sê egter aandeelpryse in die algehele indeks is tans volgeprys. Dit beteken dat die aandeelpryse in die indeks die waarde en verwagte verdienste van die maatskappye in die indeks korrek weerspieël. ’n Indeks wat dié regverdige vlak van waardasie bereik het, styg gewoonlik nie veel verder nie. “Grondliggende dinge soos groei in verdienste is nou die enigste rede waarom die mark verder sal klim en ekonomiese groei is nodig om groei in maatskappye se verdienstes aan te dryf.”
Ledbitter sê BoE Private Clients verwag dat die JSE in 2013 waarskynlik nie ’n verdienste van meer as 10% sal lewer nie. “Ek dink ons het vanjaar twee jaar se verdienste in net een jaar gekry. Ek sal tevrede wees as die mark volgende jaar net sywaarts of effens positief beweeg.”
Ledbitter sê ook Suid-Afrikaanse aandeelpryse sal slegs kan verbeter as die Europese ekonomie begin herstel omdat sowat 35% van die land se uitvoer, buiten hulpbronne, na die eurogebied gaan.