Sake24 WEBWERWE/DIENSTE >

JSE sluit effens hoër op stil dag

Deur: Mari Beukes en Bloomberg 2012-08-16 21:47
Johannesburg. – Wêreldmarkte het te midde van lae handels­volumes gister nie veel beweging getoon nie.

Die JSE se indeks van alle aandele het 0,56% hoër gesluit op 35 743 punte.

Die rand het gisteroggend tot selfs R8,29 teenoor die dollar teruggesak, maar teen vroeg gisteraand weer op R8,21 gestaan.

Die JSE het laat gistermiddag ’n hupstoot gekry toe Amerikaanse aandeelpryse verstewig het ná positiewe syfers uit die boubedryf.

Amerika het verlede maand 812 000 nuwe boupermitte uitgereik te danke aan die skerpste styging in nuwe boupermitte sedert 2008.

Dié syfers het ’n daling in die Philadelphia Fed se leidende aanwyser oorskadu.

Europese markte, wat reeds bemoedig is deur beter as verwagte kleinhandelverkope in Brittanje, het ná die goeie nuus uit Amerika tot hul hoogste vlakke sedert Maart vanjaar geklim.

Die gebrek aan enige nuwe ontwikkelinge in Europa het beleggers se aandag die week op ekonomiese data gehou.

’n Rits positiewe syfers uit Amerika laat beleggers al hoe meer twyfel of die Amerikaanse Federale Reserweraad (Fed) weer kwantitatiewe verruiming sal instel.

Dié beleid behels dat bykomende likiditeit in die Amerikaanse ekonomie gepomp word. Dit beteken dat meer dollars in die ekonomie beskikbaar is.

Die vooruitsig dat kwanti­tatiewe verruiming nie gaan plaasvind nie het die dollar gister gehelp om te verstewig.

Beter ekonomiese vooruitsigte beteken egter dat vraag na olie ook sterker sal bly.

Die prys van Brent-ruolie het gistermiddag tot selfs $116,60 per vat geklim en teen vroeg gisteraand steeds naby $116 gebly.

Die goudprys was naby $1 615 per fynons.

«Terug