Johannesburg. – Die indeks van alle aandele van die JSE het gister wipplank gery en was by tye ’n bietjie op en dan weer ’n bietjie af.
Daar was nie enige sterk aandrywers wat die mark in enige rigting kon druk nie en die indeks het uiteindelik die dag 0,05% hoër afgesluit op 35 487 punte.
Jacques Theron, portefeuljebestuurder van Absa Batebestuur, sê dit lyk asof die mark begin konsolideer ná die hoogtepunte wat in die laaste paar dae aangeteken is.
“’n Mate van konsolidasie is positief teen die hoër vlakke nadat groot daaglikse bewegings in die mark so lank aangedryf is deur buitelanders wat óf risiko vermy óf daarvoor kans sien om risiko’s te loop.”
Die hulpbronindeks het gister met 1,13% gestyg, en dit kan toegeskryf word aan ’n omskakeling van beleggings uit ander sektore, sê Theron.
Die styging van 10,88% in die prys van olie tot $110,89 per vat en stygings in die pryse van ander hulpbronne het ook hulpbronaandele ondersteun.
Theron sê daar was gister veral groot kooptransaksies in die aandele van Anglo American.
Die huidige aandeelprys van dié swaargewig op die JSE trek die aandag van kopers, veral ná die sterk stygings in die pryse van nywerheidsaandele, waarvan baie nou te duur is.
Die goudprys het effens gedaal tot $1 610 per fynons en die pryse van goudaandele het effens teruggesak.
Die rand het gister ietwat versterk teenoor die vernaamste buitelandse geldeenhede.
Die rand was in laat verhandeling 0,16% stewiger teenoor die dollar op R8,15 nadat dit gedurende die dag tot R8,10 verbeter het.
Dit het met 0,09% teenoor die euro verstewig tot R10,12.
Die verstewiging van die rand dui daarop dat geld van buitelandse beleggers steeds invloei weens onsekerheid in ander markte.
Die Europese markte het moed geskep omdat dr. Angela Merkel, Duitse kanselier, die plan van die Europese Sentrale Bank steun om Europese effekte te koop om die koste van lenings vir Spanje en Italië te verlaag.