Johannesburg. – Hernieude kommer dat Amerika vroeg volgende jaar oor ’n fiskale afgrond gaan tuimel, het Vrydag na plaaslike markte oorgespoel.
Politieke leiers kon die afgelope paar dae nie ’n ooreenkoms bereik nie en hulle gaan nou eers ná Kersfees onderhandelinge hervat.
Die JSE se indeks van alle aandele het Vrydag 0,25% laer gesluit op 39 125 punte. Die rand het tot R8,58 teenoor die dollar teruggesak. Dit het gisteraand vroeg teen R8,55 teenoor die dollar verhandel.
“Die onsekerheid plaas druk op die markte,” sê Jim Reid, ’n strateeg van Deutsche Bank AG in Londen. Chris Becker, ’n ontleder van Tradition Analytics, sê die markte gaan minstens op kort termyn negatief op dié nuus reageer.
John Boehner, die Amerikaanse huis van verteenwoordigers se Republikeinse speaker, het gister sy “Plan B” om die sogenaamde fiskale afgrond in Amerika te oorkom, laat vaar.
Bestedingsbesnoeiings en belastingverhogings van meer as $600 miljard is veronderstel om op 1 Januarie van krag te word en kan die land se ekonomie van voor af in ’n resessie dompel.
Die Republikeine sou vroeër instem om persoonlike belasting te verhoog vir Amerikaners wat meer as $1 miljoen per jaar verdien, eerder as die drempel van $400 000 wat pres. Barack Obama voorgestel het.
Die Republikeine is nou heeltemal gekant teen verhogings in belasting om die regering se inkomste te verhoog, wat dit nog moeiliker maak om ’n oplossing vir die fiskale afgrond te vind.
Lede van die huis van verteenwoordigers en senatore sal eers ná Kersfees ’n begrotingsooreenkoms kan bereik.
Dit beteken hulle gaan minder as ’n week hê om ooreen te kom omtrent maatreëls om te verhoed dat Amerika oor die fiskale afgrond stort.
Die huis van verteenwoordigers het gesê hulle gaan eers ná die Kersvakansie stem en sal terugkeer “wanneer dit nodig is.” Harry Reid, leier van die Demokrate in die senaat, het gesê die senaat gaan eers weer op 27 Desember die kwessies oor die begroting bespreek.