Die rand het Dinsdag stewig vertoon ná die nuus dat pres. Jacob Zuma herverkies is as die ANC se president, en die sakeman Cyril Ramaphosa die ANC se nuwe adjunk-president is.
Ramaphosa het 3 017 stemme ontvang, vergeleke met 463 vir Tokyo Sexwale en 470 vir Mathews Phosa.
Zuma het 2 983 stemme teenoor adjunk-president Kgalema Motlanthe se 991 ontvang. Motlanthe het onttrek aan die verkiesing vir adjunk-president van die party.
Die rand het Dinsdagoggend tot sy beste vlak in tien weke versterk danksy verligting dat die leierskapstryd tot 'n einde loop en die verwagting dat Ramaphosa verkies sal word, wat deur beleggers verwelkom word. Ramaphosa is hoof van die Shanduka-groep, wat belange het in Standard Bank, Lonmin en MTN. Sy rykdom word op sowat R2,4 miljard geskat.
Teen 16:15 het die rand verhandel teen R8,55 vir 'n dollar, meer as 'n persent sterker as Vrydag.
Peter Attard Montalto van die internasionale beleggingsgroep Nomura International, meen egter die rand sal onstuimig bly in die afsienbare toekoms en veld verloor indien daar 'n belasting op mynmaatskappye ingestel word tydens die ANC se beleidskonferensie, wat tans in Bloemfontein gehou word. Die reaksie van kredietgraderingsagentskappe op só 'n belasting en Fitch se verwagte afgradering van Suid-Afrika se kredietgradering - hy is die enigste van die groot agentskappe wat dit nog nie gedoen het nie - in die eerste kwartaal aanstaande jaar, sal die geldeenheid verder skade berokken, meen hy.
Sou Ramaphosa Kgalema Motlanthe as adjunk-president van die land vervang vóór die verkiesings in 2014, sal dit egter tot 'n kort-termyn lopie op die plaaslike markte lei, verwag Montalto.
Die aanstelling is egter nie 'n uitgemaakte saak nie, veral nie gegewe die tyd wat dit vir Ramaphosa sal neem om die oorgang uit die sakesektor te maak nie.
Montalto is skepties of Ramaphosa werklik 'n impak op ekonomiese beleid kan maak.
"Ons dink daar is min beweegruimte vir hom binne die ANC-alliansie." Hy dink Ramaphosa se aanstelling sal 'n belegger-vriendelike stem in die kabinet beteken, maar baie min op voetsoolvlak verander.
Die mark sal egter Ramaphosa en Zuma se ondersteuning van die Nasionale Ontwikkelingsplan tydens die ANC-konferensie as baie positief ervaar, voeg Montalto by. Hul ondersteuning behoort egter nie as 'n verrassing te kom nie. Die plan kan meestal op die lang termyn geïmplementeer word, wat beteken dat dit min politieke impak op kort termyn sal hê. Daarby kan ander beleidsmaatreëls toegepas word wat Cosatu gelukkig sal hou, maar die plan sal ondermyn.
"Ek dink nie dat dit op kort termyn die beleidskonflik tussen die Nasionale Ontwikkelingsplan en die Nasionale Groeiplan oplos nie. Daar is steeds te veel konflik tussen die betrokke ministeries om die ontwikkelingsplan vinnig en maklik te implementeer."